FOTO: Verskaf
Goeie nuus vir musiekliefhebbers in Kaapstad! Die immergewilde Liefde By Die Dam-konsert, wat elke jaar by Emmarentia Dam in Johannesburg aangebied word, maak vanjaar ook ’n draai in die Wes-Kaap.
Liefde By Die Dam, vernoem na Valiant Swart se bekende treffer met dieselfde titel, streef daarna om as vertoonvenster vir die beste plaaslike talent te dien. Die program sorg vir die heerlikste musiek vir jonk en oud, ’n ideale musiekbelewenis vir die hele gesin of ’n lekker dag uit saam met jou besties.
“Dit is uiteindelik tyd om ons dag vol musiek, goeie kos en samesyn ook Kaap toe te bring. Bring jou mense en kom en geniet die dag saam met ons by Meerendal met die wynlande en berge as prentjiemooi agtergrond,” sê Pierre Greeff, een van die lede van Die Heuwels Fantasties asook organiseerder van die konsert.
Agt bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars en groepe gaan by die piekniek-styl konsert optree. Die seremoniemeester Schalk Bezuidenhout gaan die program se verloop met ligte vermaak bymekaar hou.
Wimpie van der Sandt, die hoof uitvoerende beampte van Bok Radio, sê dat dit vir hulle ’n maklike besluit was om betrokke te raak by die konsert. “Ons het die laaste drie jaar stelselmatig ons musiek formaat begin aanpas om tred te hou met die veranderinge in die Suid-Afrikaanse musiek bedryf. Daar is die afgelope tyd ’n duidelike kopskuif in die musiekbedryf gewees en ou gunstelinge soos Valiant Swart en Koos Kombuis is baie gewild onder ons luisteraars. Francois van Coke, Die Heuwels en Sunset Sweatshop is almal voormalige Wes-Kaapse Bokkie wenners. Ons hou van die manier wat die manne werk en ons sien uit na ’n lekker show by Meerendal met die top name in Suid-Afrikaanse musiek!”
Liefde by die Dam gaan ook hand aan hand met ’n bietjie liefde gee. Liefde Wen samel na die afloop van die konsert komberse in vir minderbevoorregtes. Greeff verduidelik: “Ons help graag ander; bring jou kombers en los dit na die konsert agter. Liefde Wen sal seker maak dit kry die regte huis.”
Die konsert in Johannesburg het vanjaar om en by 800 komberse ingesamel.
Kom deel in ’n heerlike, gesellige musiek-dag by die dam – bring piekniek mandjies. Daar sal ook ’n verskeidenheid kosstalletjies wees.
Kaartjies kos R195 by Computicket en kinders 12 jaar en jonger betaal slegs R75.
Spesiale kaartjie-aanbieding:
VIP kaartjies: R495 – sluit VIP ingang, spesiale sitplekke naby verhoog, gratis drankies en versnapperinge in.