Daar is geen beter manier om die laaste bietjie van ’n naweek te geniet as met ’n Sondagmiddag piekniek nie. En nou kan dit nóg lekkerder wees as Suid-Afrika se blinkste musieksterre die klankbaan verskaf!
Piekniek & Musiek beloof om hierdie somer die hoogtepunt op die kalender te wees met gereelde optredes op Sondae op die grasperke van die Zevenwacht Landgoed in Kuilsrivier. Die eerste konsert, wat op Sondag, 12 November, afskop – is met niemand anders as die gewilde Elvis Blue nie.
Al die konserte sal gedurende die dag plaasvind en teen sonsondergang klaar wees. Dus kan jy jou piekniek-pakkie bespreek, ’n groot kombers vir die grasperk bring, en die gesellige atmosfeer geniet. Die venue bied ook klim- en klouterrame om die jongspan besig te hou.
Kaartjies vir Piekniek & Musiek is reeds te koop en kos slegs R140 vir volwassenes en R60 vir kinders tussen die ouderdom van 3 tot 12 jaar. Kinders onder drie kry gratis toegang. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets asook Pick n Pay Soneike, Pick n Pay Glengarry en Hyper Brackenfell.
Let daarop dat geen verversings en drankies op die perseel toegelaat word nie – piekniek-pakkies sal slegs by Zevenwacht Landgoed beskikbaar wees. Bestel jóú piekniek-pakkie voor die byeenkoms by Webtickets.
Hekke open 14:00 en die eerste kunstenaar sal teen 16:30 op die verhoog wees. Konserte duur tot ongeveer 19:00.
Piekniek & Musiek word met trots ondersteun deur Bok Radio en word aangebied deur Ian Bredenkamp Media.
Luister na dié speellys van Elvis Blue op Liedjie: