Tien jaar, talle treffers en ’n musiekloopbaan wat haar as een van die bekendste stemme in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig het. Franja du Plessis vier vanjaar ’n besonderse mylpaal: ’n volle dekade sedert haar debuutalbum, “My Verhaal”, in 2016 verskyn het.
Sedertdien het Franja haar eie plek in die bedryf uitgekerf met ’n kombinasie van pop, country, lekker dansmusiek en meer persoonlike liedjies. Sy het oor die afgelope dekade verskeie albums en enkelsnitte uitgereik en ook saam met haar ma, Juanita du Plessis, en broer, Ruan Josh, musiek gemaak.
Om haar 10 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf te vier, het Afrikaanse Musieknuus gaan kyk na die liedjies wat deur die jare uitgestaan het, steeds gewild is en sterk met Franja se naam geassosieer word.
Hier is ons top-10 Franja du Plessis-liedjies:
-
BRING DIT
Bo-aan ons lys is “Bring Dit”. Met meer as drie miljoene strome op Spotify het dié treffer homself oor die jare as een van Franja se gewildste liedjies gevestig en bly dit ’n gunsteling onder haar aanhangers.
-
EK KAN NIE OPHOU KYK
Een van die liedjies uit Franja se vroeë loopbaan wat steeds ’n spesiale plek onder aanhangers het. “Ek Kan Nie Ophou Kyk” het deel geword van die klank waarmee Suid-Afrika haar leer ken het.
-
STAD VAN VERLANGE
Die openingsnit van haar 2016-debuutalbum, “My Verhaal”. “Stad Van Verlange” neem ons terug na waar Franja se eie musiekreis begin het en bly ’n belangrike deel van haar eerste dekade.
LEES OOK: Resensie – Franja du Plessis: My Verhaal
-
GEE MY ’N BOERSEUN
Pret, energiek en onmiskenbaar Franja. “Gee My ’n Boerseun” is een van daardie liedjies wat oor die jare sterk met haar naam vereenselwig geraak het.
-
MY LIEF
Uit die “Los Jou Hart”-era kom My Lief, ’n liedjie wat ’n sagter kant van Franja se musiek wys en steeds een van die uitstaande snitte uit haar katalogus is.
-
LISENSIE
Met “Lisensie” het Franja gewys dat sy ’n dekade later steeds weet hoe om ’n Afrikaanse dansvloer aan die gang te kry. Dié 2024-treffer het ’n vars hoofstuk in haar musiekloopbaan verteenwoordig.
-
LAG TOT JY HUIL
Dié snit uit “Hittegolf” (2018) vang Franja se energieke popklank perfek vas en herinner aan ’n era waarin sy haar eie identiteit as solo-kunstenaar verder gevestig het.
-
KAALVOETKIND
Saam met Juanita du Plessis en Ruan Josh is “Kaalvoetkind” ook deel van die Du Plessis-familie se besondere musiekverhaal. Die liedjie bly ’n geliefde samewerking tussen die drie kunstenaars.
-
HAKAHANA
Franja het “Hakahana” self geskryf en die 2023-enkelsnit het ’n meer moderne, lekker-kuier-kant van haar musiek na vore gebring.
-
OE LA LA!
Ons sluit die top-10 af met een van Franja se nuwer vrystellings. “OE LA LA!”, wat in November 2025 verskyn het, wys hoe haar klank oor tien jaar ontwikkel het sonder dat sy die energie verloor het waarvoor haar musiek bekend geword het.
Daar is natuurlik baie liedjies wat nét-net die top-10 misgeloop het. “Deur die Reën”, “VERE!”, “Kry My in die Middel”, “Los Jou Hart”, “My Verhaal”, “Hittegolf” en “Die Ou Ford’ verdien almal ’n spesiale vermelding.
Van “My Verhaal” in 2016 tot die musiek wat sy vandag maak, het Franja du Plessis reeds ’n dekade se musiek, herinneringe en treffers agter haar naam.
Tien jaar later is haar verhaal egter nog lank nie klaar geskryf nie. Kyk gerus uit vir haar nuutste enkelsnit wat binnekort uitgereik word.
