Maak gereed vir ’n onvergeetlike dag van musiek en feesvieringe wanneer Afrikaans Oppi Platteland op 13 Februarie 2027 na Môreson Plaas in Malmesbury terugkeer.
Dié gewilde Afrikaanse musiekfees vier sy vyfde aflewering met die tema “Trots Afrikaans” en beloof om weer van Suid-Afrika se grootste en gewildste kunstenaars op een verhoog saam te bring.
’n Sterbelaaide kunstenaarslys
Feesgangers kan uitsien na ’n propvol musiekprogram met optredes deur Spoegwolf, Steve Hofmeyr, Emo Adams, Zaan Sonnekus, Bok van Blerk, Snotkop, Early B, Ricus Nel, Appel, Juan Boucher, Karlien van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Brendan Peyper, Robbie Wessels, Barto, Bernice West, Danny Smoke, Tasché, GString en JACOBUS. Daar is ook drie geheime kunstenaars en ’n verrassing of twee.
Die fees se gashere is Hammie Wessels, Westley – beter bekend as Rugby-kaans – en die gewilde inhoudskepper en smaakmaker Marco van Deventer, oftewel Wees ’n Man.
Janey en Waney tree as die fees se amptelike ambassadeurs op, terwyl die aktrise en mediapersoonlikheid Angelique Gerber beheer van die fees se sosialemediaplatforms sal neem.
Algemene toegang
Verskeie kaartjie-opsies sal beskikbaar wees:
- R299 per persoon vir Early Bird-kaartjies – slegs 24 uur beskikbaar
- R575 vir ’n Early Bird-dubbelkaartjie – slegs 15 minute beskikbaar
- R295 per skolier
- Gratis toegang vir voorskoolse kinders
- R375 per persoon vir Algemene Toegang Fase 1
- R395 per persoon vir Algemene Toegang Fase 2
VIP Golden Circle
Vir feesgangers wat die dag in styl wil beleef, is daar ook VIP Golden Circle-kaartjies beskikbaar:
- R2 999 vir ’n Early Bird VIP-dubbelkaartjie – slegs 15 minute beskikbaar
- R1 750 per persoon vir VIP Golden Circle
- R750 per skolier
- R250 per voorskoolse kind
- Gratis toegang vir kinders van nul tot twee jaar
Die VIP Golden Circle-pakket sluit toegang tot ’n privaat wyntuin, privaat kroeg – wat nie ’n oop kroeg is nie – VIP-toilette, privaat sitplekke, ’n Golden Circle-gebied voor die verhoog, beperkte peuselhappie- en broodjieplatters en ’n vinnige inklokbaan in.
VIP Golden Circle “Deck”-losie
Die eksklusiewe VIP Golden Circle “Deck”-losie kos R4 999 per persoon en sluit die volgende in:
- ’n Verwelkomingspakket met handelsware
- ’n Oop kroeg met drankies en shooters
- ’n Komplimentêre bottel rooiwyn
- ’n Spitbraai-middagete
- Peuselhappies, soesji en pizza as aandete
- Toegang tot ’n privaat VIP-dek met ’n uitsig
- VIP Golden Circle-toegang
- Privaat sitplekke en toilette
- Privaat VIP-parkering
- ’n Vinnige inklokbaan
Algemene losie
’n Algemene losie kos R25 000 en bied toegang vir 20 mense. Die pakket sluit ’n privaat kroeg – nie ’n oop kroeg nie – ’n privaat losie met ’n uitsig oor die verhoog, ’n verwelkomingsbord met peuselhappies of broodjies, privaat sitplekke met skaduwee en ’n vinnige inklokbaan in.
Kampering en glamping
Feesgangers wat die volle naweekervaring wil geniet, kan van die kampeer- en glamping-opsies gebruik maak.
Kampering kos R250 per persoon, terwyl ’n spesiale dubbelkampeerkaartjie teen R400 vir slegs 15 minute beskikbaar sal wees. Kampeeropsies vir Vrydag én Saterdag is beskikbaar.
Glamping kos R2 300 per tent vir Saterdag of R2 750 per tent vir die hele naweek, wat Vrydag en Saterdag insluit. Elke glampingtent bied slaapplek vir twee mense.
Wanneer en waar is kaartjies beskikbaar?
Kaartjies vir Afrikaans Oppi Platteland Kaapstad 2027 is vanaf 25 Augustus 2026 om 10:00 aanlyn by www.kaarkies.co.za beskikbaar.
Let daarop dat “dubbel” toegang vir twee persone beteken en “pp” na die prys per persoon verwys.
Met ’n reusekunstenaarslys, verskillende kaartjie- en verblyfopsies en ’n dag propvol Afrikaanse vermaak, beloof Afrikaans Oppi Platteland se vyfde aflewering om ’n feesviering van alles wat trots Afrikaans is te wees.
