Die wagtyd is verby! Francois van Coke & Vriende keer op Vrydag, 9 Oktober 2026, terug na die SunBet Arena by Time Square in Pretoria vir wat beloof om een van die grootste alternatiewe musiekgeleenthede van die jaar te wees.
Sedert die eerste Francois van Coke & Vriende-konsert in 2018 het dié hoë-oktaan arena-produksie gegroei tot een van Suid-Afrika se mees geliefde jaarlikse musiekgeleenthede. Met wêreldklasproduksie, ’n unieke konsep en ’n indrukwekkende versameling kunstenaars wat almal ’n musikale geskiedenis met Francois deel, verkoop die konsert jaar ná jaar uit.
“Ons gaan die 2026 weergawe van Francois van Coke & Vriende iets ongelooflik maak, ek belowe. Dit gaan ’n aand wees wat ons nooit sal vergeet nie,” sê Francois van Coke.
Wat hierdie konsert besonder maak, is die feit dat elke kunstenaar op die verhoog reeds saam met Francois musiek geskryf, opgeneem of vrygestel het. Gedurende die twee uur lange vertoning sluit sy vriende by hom aan om van die grootste treffers uit die Suid-Afrikaanse alternatiewe musiekwêreld uit te voer.

’n Sterbelaaide line-up
Die 2026-uitgawe bring ’n indrukwekkende groep kunstenaars bymekaar:
- Spoegwolf
- Karen Zoid
- Jack Parow
- Robbie Wessels
- Fokofpolisiekar
- Early B
- Die Heuwels Fantasties
- Zaan Sonnekus
- Neon Dreams
- Van Pletzen
- Tasché
- Hunter Kennedy

Een van die grootste verrassings van die aand is die toevoeging van Robbie Wessels, wat vir die eerste keer deel vorm van die Francois van Coke & Vriende-familie. Aanhangers kan uitsien na die uitvoering van die gewilde rugbytreffer “Bokbefok”, en moontlik selfs nog ’n paar verrassings.
Gewilde gunstelinge Early B en Neon Dreams keer ook terug met hul kenmerkende energie, terwyl kunstenaars soos Tasché, Zaan Sonnekus en Van Pletzen sorg vir ’n vars dinamiek op die program.
“Ek sien baie uit om saam met Die Gevaar en Fokofpolisiekar deur tunes uit die laaste 23 jaar te speel en sien baie uit vir ’n klomp nuwes, veral een van my nuwe enkelsnitte, ‘Nagmerries’. En ek sien ook baie uit om Tasché en Zaan se nuwe song, ‘Dood’, in die arena te beleef,” vertel Francois.
’n Viering van Afrikaanse alternatiewe musiek
Van ikoniese treffers tot splinternuwe musiek – die 2026-konsert beloof om die beste van die Afrikaanse alternatiewe toneel saam te bring. Die gehoor kan uitsien na ’n aand gevul met nostalgie, samewerkings, verrassings en die energie waarvoor Francois van Coke & Vriende bekend geword het.

Met kunstenaars wat oor dekades heen die klank van Suid-Afrikaanse rock en alternatiewe musiek help vorm het, is hierdie jaar se line-up waarskynlik een van die sterkstes nóg.
Die vraag bly dus: Is hierdie die Francois van Coke & Vriende-line-up wat al die voriges gaan oortref?
Daar is net één manier om uit te vind.
Kaartjie-inligting
Datum: Vrydag, 9 Oktober 2026
Plek: SunBet Arena, Time Square, Pretoria
Tyd: 20:00
Kaartjies: Nou beskikbaar
Moenie hierdie een misloop nie – kry jou kaartjie en beleef self waarom Francois van Coke & Vriende steeds een van die mees gesogte musiekgeleenthede in die land is.
