FOTO: Willem Botha
Dis drie jaar sedert Demi Lee Moore die Coleske Artists-werklikheidsreeks, Die Kontrak, met haar album Mis Eet Slaap Herhaal gewen het.
En nou is sy terug met haar splinternuwe album – Jy Ken My Naam. Demi Lee het vir die eerste keer haar hand aan die pen geslaan en saam met die span liedjies geskryf.
Met wêreldklas vervaardigers en van Suid-Afrika se beste musikante het tien nuutskeppings die lig gesien. Een van dié nuutskeppings is ’n opwindende nuwe duet saam met Riaan Benadé getiteld Kannie Sonder Jou Nie.
“Ek was nog nooit iemand wat sokkie liedjies sing nie. Hierdie keer het ons gesê ons wil regtig iets van alles probeer. Ek is mal oor hierdie duet. Ek en Riaan het ’n chemistry want ons werk lekker saam, ons sing lekker saam, ons stemme werk lekker saam en hierdie is ’n liefdesliedjie,” vertel Demi Lee.
Demi Lee se liefde vir Country kan deurgaans op die album gehoor word. Liefde is ook een van die temas wat plek-plek kop uitsteek, veral met die titelsnit, Jy Ken My Naam, wat sy spesiaal vir haar ma geskryf het.
“Elke keer as ek hom live sing het ek gehuil. Dit gaan dalk oor my Ma, maar partykeer gaan dit oor die Here wat altyd by jou kan wees. Daar is ’n baie dieper betekenis in die liedjie as net woorde. Hoe staan jy teen die storms? My Ma is deur meer as enige iemand wat ek ken en sy het bly staan. Sy is daar vir my. Sy het geveg vir my en sy het toegelaat dat ek absoluut my drome kon uitleef. Ek sou nie hier sit vandag as dit nie vir my Ma was nie.”
Demi Lee se stem het ’n eerlikheid wat onbewustelik ’n gevoel van opregtheid, warmte en vertoue inboesem. “Ek is reg vir hierdie nuwe hoofstuk, ek is reg vir die nuwe album,” sê sy.
Jy Ken My Naam was só lank in beplanning, dat Demi Lee voel dat sy vir die eerste keer haar voete gevind het in wie sy as kunstenaar is.
Kan Jou Nie My Maak Liefhê is vir Demi Lee een van die mooiste liedjies wat sy al ooit gesing het… “Ek dink almal was al op ’n stadium wat jy so lief is vir iemand, maar hulle is nie terug lief vir jou nie. Dit breek jou hart, maar die een ding wat jy nie kan doen nie, is maak dat hierdie persoon lief is vir jou… en dis ook ok.”
Vir Wie Se Hart Breek Jy Vanaand het die span uit die boks gedink. Die klank is anders en die musiekvideo is op ’n ander vlak. Dis vars en die hele gevoel agter die liedjie is net “having a good time, al is jou hart gebreek.”
Dromer vertel Demi Lee se storie – van waar sy begin het tot waar sy vandag is. As jy nie hoop het in jou drome nie, dan het jy eintlik niks nie. Wat gaan jou dryf? Dis daai tipe hoop in jou wat jou altyd net aan die gang hou. “Dis wat my aan die gang gehou het. Ek hoop dit kan ander mense inspireer om net te weet, al is als om jou besig om vir jou nee te sê dat daai hoop wat jy het en aan vashou partykeer sal uitwerk,” verduidelik Demi Lee verder.
Wag Voor Jy Sê is een van Demi Lee se gunstelinge op die album. “Ek sal nooit ’n liedjie kies as ek nie self al so gevoel het nie. Wag voor jy sê jy het my lief want dit is nogal ’n sterk woord, wat baie maklik rondgegooi word en as jy weer kyk is hy weg. Partykeer moet mense net bietjie wag, terug staan en net eers kyk wat hulle om hulle het. En is dit regtig wat jy wil hê?”
Die liedjie Dalk Is Liefde Te Min is eerlik en op die man af. Jy kan alles hê in ’n verhouding, maar partykeer is liefde nie genoeg nie. Dis die nare waarheid, wat nie baie mense wil erken nie – en dis moeilik. “Ons het die liedjie gekies want dit vertel ’n eerlike storie en dis ’n eerlike boodskap. Baie mense was al in só ’n posisie.”
Water Under The Bridge is die eingste Engelse liedjie op dié album. Hierdie snit is geskryf deur Joe Foster. “My hart lê natuurlik by country musiek. Vir my vertel dit altyd ’n storie. Dit is die mooiste liedjie. En weer eens, alles kom neer op liefde en eerlikheid.”
Die liedjieskrywers op die album is Johan Oberholzer, Georic Lomas, Riaan Benadé, Elvis Blue, Joe Foster en Demi Lee self. Die album is vervaardig deur Barthlo Visagie, Juan “Floors” Oosthuizen en Robin Kielly en gemeester en opneem deur Arnold Coleske en Paulo Azevedo by Coleske Artists.
- Jy Ken My Naam is nou op alle stroomdienste soos Apple Music, Deezer, Spotify en YouTube Music beskikbaar.
- Fisiese eksemplare kan ook nou ook by Echo Record Bar gekoop word.