Die Afrikaanse rockgroep Mensdom, afkomstig uit Johannesburg, het pas hul eerste enkelsnit, “Skaapgenade”, vanaf hul langverwagte debuutalbum uitgereik. Hierdie debuutwerk beloof om die musikale landskap te verruim met diep lirieke en sterk boodskappe.
Die groep bestaan uit vier talentvolle lede: Linus Ungerer (voorsanger en ritmiese kitaar), David Francis (kitaar), Dirk Francis (baskitaar en agtergrondstem), en Anthony Panayoto (dromme). Hul unieke klank en eerlike lirieke onderskei hulle van die konvensionele hoofstroom.
Voorsanger Linus Ungerer verduidelik die betekenis agter die lied: “‘Skaapgenade’ is ons eerste enkelsnit vanaf ons hoogs verwagte debuutalbum. Die liedjie mik om mense die eerste kant van ons groep voor te stel en te wys hoe ons musiek se woorde diepte het.”
Die groep wil luisteraars inspireer om hul eie identiteit te omarm en om nie bloot die idees van die hoofstroommedia te volg nie. “Dit poog om mense meer selfbewus te maak sodat ons as individue identiteit kan ontwikkel en trots wees op ons unieke persoonlikhede, eerder as om te wees wat die ‘mainstream’ aan ons afsmeer,” sê Ungerer verder.
Die lede van Mensdom skryf al hul liedjies self. Volgens hulle is die individu wat die lirieke neerlê van minder belang, aangesien elke groeplid se invloed in die skeppingsproses ’n groot rol speel.
“Ons bevind onsself dikwels in ’n roetine waar ons dag vir dag dieselfde dinge herhaal. Ons lewens word só deur sosiale media beheer dat ons nie meer oor ons eie gedagtes en idees beskik nie. Mense is bang om enigiets te doen wat nie deur ander goedgekeur sal word nie,” voeg hulle by. Hul musiek weerspieël hierdie frustrasie en bied ’n alternatiewe perspektief.
Oor hoe die publiek op “Skaapgenade” gaan reageer, sê die groep: “Ons het geen idee nie! Natuurlik hoop ons vir die beste en probeer ons alles korrek doen sodat dit goed ontvang word. Dit hang af van hoe dit oorgedra word deur die ‘mainstream media’. Ons glo mense sal daarvan hou as dit die ongeskrewe ‘reëls en regulasies’ van die mainstream vervul.”
Hulle glo dat luisteraars met die boodskap van die lied kan identifiseer: “Ons is seker daar is baie ander mense daar buite wat ook so voel soos ons.”
Die groep hoop hul musiek bring ’n nuwe perspektief: “Dis moeilik om te voel dat daar geen manier uit die gat is as jy daaronder is nie. Ons wil hê ons musiek moet mense laat voel hul storie begin nou eers! Positief… al is dit net positief oor die feit dat jy as individu nie alleen is nie.”
Die vrystelling van hul debuutalbum gaan met ’n groot partytjie in Pretoria gevier word.
Hul loopbaanhoogtepunte sluit in optredes saam met groot name soos Francois van Coke by Loftus, Die Heuwels Fantasties en Spoegwolf by Potch JOOL, en FPK by Bluemoon. Maar hulle glo hul grootste vertonings lê nog voor.
Saam met die liedjie is ’n musiekvideo uitgereik, ’n verrassing vir die groep nadat hulle as naaswenners in ’n bandkompetisie geëindig het. Die video is opgeneem by ConXion Studios en verskil van die gewone produksies, aangesien dit live opgeneem is. Dit is vervaardig deur Unbreakable Media.
Kyk die musiekvideo hier:
Mensdom se “Skaapgenade” is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste, en met hul energieke en eerlike benadering tot musiek, lyk dit of hulle ’n blywende impak op die Afrikaanse rock-toneel gaan hê.
