Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

‘Oud en nuut’ word gevier op 25ste KKNK-musiekprogram

FOTO: Verskaf 

Die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees), wat vanjaar vir die 25ste keer op Oudtshoorn aangebied word, se musiekprogram bevat 17 debuutproduksies. Kunstenaars soos Amanda Strydom, Coenie de Villiers en Jak de Priester is van die kunstenaars wat hul werk aanbied en ses van die debute is opelugkonserte in die Kuierbuurt.

25: oud en nuut in die Outeniqua vier 25 jaar se musiek by die KKNK met onder andere Amanda Strydom, Koos Kombuis, Anna Davel, Schalk Joubert, Karen Meiring en Margiet Meyer-Rödenbeck. Tydens die eerste fees in 1995 het Amanda Strydom, Koos Kombuis en die a capella-groep Cut Glass, waarvan Anna Davel en Karen Meiring lede was, ook opgetree. Die konsert bring ook hulde aan die kunstenaars wat nie meer hier is nie.

Miss Mandy vier Amanda Stydom se 40 jaar in die musiekbedryf. Sy het die musiektoneel in 1979 getref met haar liedjie Ek loop die pad. Amanda, wat die teks geskryf het en die regisseur is, vier ook haar 25ste KKNK. Coenraad Rall begelei haar op klavier.

Coenie de Villiers speel in Die onbekende Coenie komposisies van die afgelope 40 jaar waarvan die meeste nog nooit op ’n verhoog uitgevoer is nie, maar meeste daarvan verskyn wel op sy 21 albums.

Jak de Priester ontbloot sy siel in Kyk in my oë wat sy musikale asook innerlike reis van 16 jaar uitbeeld. Kyk in my oë is ’n liedjie wat hy vir sy dogter geskryf het na ’n brandongeluk. Jak stel ook ’n nuwe boek bekend met vyf van sy abstrakte kunswerke.

Jo Black neem in Die storie agter die storie die gehoor op ’n reis vol humor, diepte, nostalgie en hoop.

In Karen Zoid: Unplugged deel dié rock chick die verhoog met Henry Steel, Schalk van der Merwe en Darren Pieterse. Haar musiekloopbaan duur reeds 19 jaar waarin sy in die Afrikaanse sowel as Engelse mark haar stempel afgedruk het.

Die werk van Afrikaanse musieklegendes se liedjies uit die vroeë 1990’s word deur vandag se kunstenaars in die Kuier met kykNET-konsert gesing. Daar wag ’n paar verrassings en sepiesterre maak ook hul opwagting op die verhoog. Die musiek van die afgelope 25 jaar herleef en kykNET se 20ste verjaardag word ook gevier. kykNET en Kuier bied die konsert aan.

Die Libertaskoor vier tydens die KKNK sy 30ste bestaansjaar met Libertaskoor: 30-jaar-viering. Die koor het by die eerste KKNK opgetree en tree vanjaar weer op met klassieke en kontemporêre werke en bekende treffers.

In Tussen die kêffie en die kerk word stories uit die kontrei en liedjie uit die hart saamgeweef deur Steffie le Roux, wat op Oudtshoorn grootgeword het. Steffie en Mariette Galjaard neem die gehoor op stofpaaie, oor berge en deur vlaktes in dié akoestiese produksie.

Woordkuns kry klank in die produksie Woorde op akkoorde met regie deur Frazer Barry. Barry, Diana Ferrus, Churchil Naudé, Jolyn Phillips, Deniel Barry en Hermien de Vos verweef woorde, musiek en natuurlike elemente van die oseaan en rommel wat uit die see spoel. Dis ’n reis van sang, digkuns, dreunsang en rymklets.

Olga Leonard, Babette Viljoen en Hilandi du Toit se produksie Krog het sy debuut in 2018 gemaak en gee klank aan die digkuns van Antjie Krog. Jannie du Toit en Thean Kotze is terug op die planke met hul gewilde produksie Kiekies – Lucas se liedjies met musiek van Lucas Maree. Gunsteliinge soos Lynelle Kenned en Drie van die Bestes is ook te sien.

Ander produksies sluit in Die groot Huisgenoot-konsert met Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Leah en Demi Lee.

Aan die einde van elke feesdag word daar in Laatnag musiek by die Netwerk24-feeskafee gemaak.

Die 25ste KKNK word aangebied vanaf Donderdag, 21 Maart tot Woensdag, 27 Maart. Die feesprogram is nou aanlyn beskikbaar. Kaartjies vir Kliek Plus-lede is nóú te koop en sal vanaf 18 Januarie 2019 by Computicket vir die publiek beskikbaar wees.