Dodo Nyoka is geen vreemdeling in die Afrikaanse musiekbedryf nie. Hy het sy merk gemaak as die naaswenner van die tweede seisoen van Die Kontrak in 2022, en sy debuutenkelsnit, Foto’s, se musiekvideo het al meer as vier miljoen trefslae op YouTube gekry. Hierdie sukses het die weg gebaan vir sy musiekloopbaan en in 2023 het hy sy aanhangers bederf met twee treffers, Frikkie vir ’n Rukkie en Country Girl van Bloem. Nou is hy terug met ’n splinternuwe enkelsnit, As Ek Opstaan.
“Die liedjie is eintlik ’n briefie geskryf vir my toekomstige vrou vir wanneer ek dood is, maar dit is ook ’n gesprek tussen my en God,” verduidelik Dodo oor hierdie unieke mengsel van rock, pop, en alternatiewe klanke. Hy deel verder dat die inspirasie agter die liedjie God is. “Die storie gaan tussen my en God, ek wou nie wag vir my toekomstige vrou nie, so ek en God het eintlik ’n gestryery gehad en ek het ’n paar keer geval. Maar dis ’n belofte wat ek aan God maak dat ek sal wag vir die een.”
Hierdie diep spirituele konneksie is duidelik in sy beskrywing van die liedjie. “Hulle sê jy sal weet wanneer dit die een is, en ek dink die ‘weet’ is daardie klein stemmetjie van God,” voeg hy by. Dodo het onlangs sy lewe vir die Here gegee en sien die liedjie as sy belofte aan God om Hom eerste in sy lewe te stel. “Dit sê in die Bybel dat ons God se bruid is. So wanneer ons onsself kies bo oor God is ons selfsugtig. So hierdie liedjie is my belofte aan God om hom bo oor als te kies.”
Die liedjie het nie net ’n sterk boodskap nie, maar Dodo glo ook dat dit elke man se gevoelens vir sy vrou perfek uitdruk. “Ek voel elke man moet hierdie vir sy vrou of toekomstige vrou speel. As jy vir jou vrou wil sê hoe lief jy haar het, sonder om woorde te gebruik, is hierdie liedjie vir jou.”
Om die emosies en diepte van die liedjie verder oor te dra, het Dodo ook ’n pragtige musiekvideo vrygestel. “As jy die musiekvideo gaan kyk, gaan jy sien hoe my kop en my hart werk. Ek deel my hart met die kykers,” sê hy. Die visuele storie wat in die video vertel word, komplementeer die lirieke en bied ’n intieme blik in Dodo se denke en emosies.
Kyk die musiekvideo hier:
Dodo sê die hoogtepunt van sy loopbaan sover is die positiewe reaksie op sy liedjie Country Girl van Bloem. “Dit is vir my so lekker om te sien hoe hierdie liedjie mense gelukkig gemaak het. Ek sê altyd ek is ’n sonneblom en die Here is die son. Sonder die son (die Here) gaan die sonneblom dood. En dis wat ek wil wees – daai warmte en lig wat die Here vir my gee, met ander mense deel,” sluit hy af.
- As Ek Opstaan is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.