Francois van Rensburg en Hazel Priscilla is nie net sibbe nie, maar hulle is ook beide omroepers met ʼn passie vir TV en musiek wat tentoongestel word in hulle jongste musiekuitreiking, “Moederstad”.
Francois, wat weekliks op GROOTfm 90.5 te hoor is as aanbieder van die Lunch Punch– en Gister Se Grotes-programme, en Hazel Priscilla, aanbieder van Kompas op RSG, het hulle sangstemme saamgevoeg as ʼn verjaardaggeskenk aan hulle ma, of dan nou ‘moeder’, op haar versoek.
Dié broer-en-suster-duo vertel hulle ma, wat onlangs haar 60ste verjaardag gevier het, se verjaardagwens is bewaarheid met die liedjie “Moederstad”.
Hazel Priscilla het die liedjie geskryf in 2020 en beskryf dit “as ʼn liefdesliedjie wat ʼn baie spesifieke oomblik in tyd vasvang”.
Kyk hier na die musiekvideo vir “Moederstad”:
Francois woon in Pretoria waar hy tans werk as bekroonde radio-omroeper, vryskutakteur en deeltydse sanger, en Hazel Priscilla is in die Kaap woonagtig waar sy op Dinsdae en Donderdae op RSG te hoor is.
“My huis is in Kaapstad, maar my hart is iewers in ʼn woud,” sê Hazel Priscilla, wat ook ʼn groot liefde vir diere het. Sy het vir agt jaar in vervaardiging in die TV-bedryf gewerk en het toevallig in die radiowese beland.
“Ons ma versoek al vir die laaste dekade dat ons ʼn liedjie saam moet opneem en ons het met haar verjaardag besluit, dis nou of nooit,” vertel Hazel Priscilla.
Dié veelsydige kunstenaar het vir twee jaar kontemporêre musiek gestudeer en daarna ʼn graad in kommunikasiekunde verwerf.
Francois vertolk die rol van Wessel in kykNET se gewilde telenovela, Diepe Waters. Hy speel onder meer teenoor Mandi du Plooy-Baard en sy karakter maak kykers woedend. Hy keer in Oktober weer terug na die kassie.
- “Moederstad” is nou beskikbaar op Apple Music en Spotify.