Francois Jacobs, die dinamiese kunstenaar, is terug met ’n nuwe enkelsnit wat beslis voetspore gaan laat. Die snit, getiteld Bruin Oë Kan Nie Jok Nie, is ’n energieke pop/EDM-treffer wat handel oor lekker tye saam vriende en die ontmoeting met ’n meisie met die mooiste bruin oë. Hierdie voetstamp liedjie is nie net ’n viering van vriendskap nie, maar ook ’n perfekte danssnit vir kuiergeleenthede soos sokkies, braaie en selfs kampe om die vuur.
Die enkelsnit is deur Francois Jacobs, Kevin Smit (bekend as Kevboii) en Ferdinand Skead geskryf, en Skead het ook die produksie hanteer. Francois sê, “Ek wou graag ’n liedjie uitsit wat vriendskap uitbeeld en wys hoe lekker dit is om saam vriende tyd te spandeer in die bos.” Hy voeg by dat Kevboii se skryfvaardighede ’n groot bydrae tot die lekker gevoel van die liedjie gemaak het, en dat hulle doelbewus ’n snit geskep het waarop mense lekker kan skoffel en saam kan dans.
Hierdie snit, wat reeds sy vyfde enkelsnit is, toon Francois se passie vir musiek en sy vermoë om luisteraars aan te gryp. Met sy vorige treffers wat al op verskeie radiostasies se ranglyste gepronk het, glo Francois dat Bruin Oë Kan Nie Jok Nie ’n nuwe hoogtepunt in sy loopbaan is. “Die vrystelling van hierdie snit is verseker een wat uitstaan. Ek het dit met hart en siel aangepak, en ek glo mense gaan dit geniet,” sê hy.
Francois werk reeds aan nuwe musiek en het groot planne vir die res van die jaar. Hy het bevestig dat hy en vervaardiger Ferdinand Skead aan ten minste nog drie splinternuwe treffers werk wat later in 2024 vrygestel sal word.
Die musiekvideo vir Bruin Oë Kan Nie Jok Nie is geskiet deur Leon Barnardt by die pragtige Country Lodge in Harties. Die aktrise Je-ani Swiegelaar, bekend vir haar rol in Binnelanders, maak ’n verskyning in die video en het met haar komedie ’n ligte en vrolike gevoel aan die video verleen. Francois sê, “Sy het ons vreeslik laat lag met die komedie wat sy in die video ingebring het.”
Hierdie nuwe snit van Francois Jacobs beloof om ’n groot treffer te wees en sal binnekort by elke kuiergeleentheid, sokkie en braai gehoor word. Dit is ’n lied wat almal gaan laat dans en die lekker vibes saam vriende vier.
Kyk die musiekvideo hier: