Adrenalien, ’n splinternuwe, energieke popsnit deur die talentvolle sangeres, Tiffany Steyn, sal luisteraars se voete behoorlik laat jeuk om te dans.
Dié lied, wat geskryf is deur Francis Grobler en vervaardig is deur Byron Kuntz, skets die prentjie van die adrenalien wat deur verliefdes se are pomp wanneer hulle boodskappe van mekaar ontvang.
Hoewel die enkelsnit oorspronklik deur ’n ander bekende opgeneem is, het Tiffany se platebaas, Ferdi Steyn van Artist Village, gemeen dat dit perfek by haar stem pas en sy dus ook ’n kans daarop moes waag.
“Dit is ’n pop-liedjie wat gaan oor hoe jy voel wanneer jy ’n boodskap kry van die persoon wat jy liefhet,” verklap die sangeres oor die betekenis agter die lirieke.
“Wanneer jy verlief is, voel enige vorm van kommunikasie met jou geliefde soos ’n weghol-veldbrand en die adrenalien wat deur jou are pomp is soos vitamiene wat jou liggaam nodig het om te funksioneer.”
Adrenalien is dié talentvolle kunstenaar se derde amptelike vrystelling. Die vorige twee enkelsnitte is baie goed ontvang en het selfs speeltyd op verskeie plaaslike radiostasies gekry.
“Girl vir jou” en “Voel dit” het albei op Radio Laeveld se trefferparades in die nommer 1 posisie geëindig. “Voel dit” het ook ’n musiekvideo waarin Jaco Pitzer, beter bekend as Fris-Jan van Jan Jan Jan, ook sy verskyning maak.
Sy hoop dat haar aanhangers haar nuutste poging net soveel gaan geniet soos sy het toe sy dit opgeneem het.
Nie net sal die lirieke jou uitnooi om saam te sing nie, maar die lekkerluister melodie en polsende ritme sal dit ook ’n gewilde keuse maak op die dansbaan.
Tiffany was reeds van kleins af versot op musiek en het tydens haar eerste Steve Hofmeyr-konsert besluit dat sy graag eendag ’n sanger wil word, en sedertdien is dit haar hooffokus.
Sy het in Phalaborwa grootgeword en reg deur haar skoolloopbaan deelgeneem aan Eisteddfods, opgetree by funksies en meegeding in verskeie plaaslike sangkompetisies, waaronder Supersterre.
Direk na skool het sy die geleentheid gekry om op groot verhoë op te tree. Sy het saam met haar sangjuffrou, by wie sy lesse gekry het op skool, ook ’n hele paar sang studente opgelei.
Aan die einde van 2012 is sy met haar hoërskoolliefde getroud. Sy is ook ’n ma van twee pragtige dogtertjies en haar gesin woon sedert Oktober 2017 in Nelspruit.
Dié 31-jarige musikant spog ook met ’n diploma in vroeë kinderontwikkeling en bedags is sy ’n juffrou en die mede-eienaar van die kleuterskool in Nelspruit.
As jy haar uitvra oor haar rolmodelle in die bedryf, deel sy: “Plaaslik sal dit Corlea Botha wees.
Haar fantastiese, sterk stem is regtig merkwaardig en haar genre van liedjies is waarby ek aanklank vind. Internasionaal is dit vir my moeilik om te kies tussen Céline Dion en Pink.”
Sy bewonder Céline vir haar passie, toewyding en harde werk, terwyl sy waardering het vir die feit dat Pink sterk staan vir dit waarin sy glo en haar nie steur aan mense se opinies as dit kom by haar styl, voorkoms en unieke smaak nie.
Haar planne vir die toekoms is om ’n paar Afrikaanse liedjies wat sy geskryf het vry te stel en om ’n duet met ’n manlike kunstenaar te doen.
Dit sal ook vir haar ’n groot voorreg wees om ’n musiektoekenning te wen en deel te wees van ’n gewilde musikale produksie.
Oor die jare, het die musiekbedryf haar geleer dat elkeen sy eie opinie het, dat dit oukei is om nie almal se gunsteling te wees nie, om nederig te wees en te onthou dat almal ’n plekkie in die son het.