Ná die sukses van sy treffers “Meisie Wat Kan Vasdans” en “Annabel”, is die Vrystaatse kunstenaar Wentzel gereed om sy volgende groot enkelsnit, “Help ’n Bietjie”, vry te stel op 7 Maart 2025. Hierdie liedjie beloof om ’n vars en opwindende klank te bring wat aanhangers se harte sal verower.
Het jy al ooit gesukkel om ’n meisie te vra om te trou, of om net die moed bymekaar te skraap om saam met haar te dans? Wentzel se nuwe liedjie kan dalk net daardie ekstra bietjie inspirasie wees wat jy nodig het. Die aansteeklike refrein, “Oh, help ’n bietjie, Help ’n bietjie, Help ’n bietjie daar, Somer kom al nader, Hy sal definitief moet vra,” skep ’n speelse, energieke atmosfeer wat enige luisteraar se voete sal laat jeuk.
Wentzel verduidelik: “Ek het hierdie liedjie geskryf uit my eie ervarings, en ek het persoonlike waarnemings gebruik om die storie te vertel. Ek dink baie mense sal hulself daarin kan herken, of jy nou die een is wat aanmoediging nodig het, of die een is wat help. Dit gaan nie net oor liefde nie, maar ook oor mense wat daar is vir mekaar en mekaar bietjie aanmoedig, en oor die krag van vriendskap.”
Hierdie kreet, “Help ’n bietjie, help ’n bietjie, help ’n bietjie daar,” is al bekend as ’n aanmoediging by troues en sportgeleenthede. Dit maak dit die perfekte liedjie vir enige feestelike geleentheid waar mense hul stemme wil saamgooi en die gees hoog wil hou.
Kyk die musiekvideo hier:
As jy dalk self ’n bietjie hulp nodig het, of net lus is vir ’n lekker deuntjie, dan is “Help ’n Bietjie” die perfekte liedjie vir jou. Maak gereed om dit voluit te speel vanaf 7 Maart 2025 – en hou dop vir die musiekvideo wat ook daarmee saam uitgereik word!