Maak gereed om jou dansskoene aan te trek, want Ivan Roux is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat beslis ’n oorwurm gaan wees! Merk 7 Maart op jou kalender, want “PITTE” beloof om jou te laat saamsing en dans soos nog nooit tevore nie. Hierdie tong-in-die-kies partytjieliedjie is die perfekte toevoeging tot elke naweek-speellys.
Dié liedjie, geskryf deur Roux Cloete en Daniël Marais van Die Piesangskille, bring ’n vars en energieke klank wat gehore regoor die land sal laat saamsing op die maat van die musiek. Met Dirk van Niekerk as vervaardiger, is die eindresultaat ’n polsende ritme wat jou voete outomaties laat beweeg.
LEES OOK: Ivan Roux se nuutste enkelsnit ‘Morsig’ boei luisteraars
Om die partytjie verder aan die gang te sit, het die musiekvideo, vervaardig deur Eric T Graham, ’n visuele fees geword wat die speelse gees van die liedjie vasvang. Verfilm in Potchefstroom, bring die video ’n skerp, prettige en dinamiese aanslag wat perfek pas by die energie van “PITTE”.
“Dit is ’n upbeat liedjie, baie anders as my vorige musiek, maar ek het gevoel dit is tyd om iets nuuts te probeer,” sê Ivan oor sy jongste vrystelling. “PITTE” vertel die storie van ’n meisie wat almal se aandag trek, maar net ’n paar dapperes kan kers vashou by haar selfversekerde en sterk persoonlikheid.
“Ek wil hê mense moet net die liedjie geniet, dans en ’n goeie tyd hê,” sê Ivan. “Ek was lus om iets vry te stel wat net feel-good is en nie oor liefde gaan nie,” voeg hy met ’n lag by.
Kyk die musiekvideo hier:
Met “PITTE” bring Ivan Roux ’n nuwe energie na die Afrikaanse musiekbedryf – ’n liedjie wat jou onmiddellik sal vasvang en ’n móét is vir enige musiekliefhebber. Maak seker jy luister en kyk die musiekvideo op 7 Maart – hierdie een wil jy nie misloop nie!
