Franja du Plessis is terug met nóg ’n opwindende liedjie wat beloof om harte te verower. Haar nuutste enkelsnit, “Kry My In Die Middel,” volg op die reuse sukses van vorige treffers soos “VERE!” en “Lisensie” en beloof om vinnig ’n gunsteling te word.
Dié liedjie is deur Franja self geskryf en vervaardig, met Dirk van Niekerk wat die mengwerk behartig het. “Kry My In Die Middel” vang die opwinding en emosie van verlief wees vas en fokus op die konsep van om mekaar halfpad te ontmoet – of dit nou in liefde of in begrip is.
LEES OOK: Franja bied vernuwende klank met nuwe enkelsnit, ‘Vere’
Volgens Franja handel die liedjie oor daardie delikate oomblik wanneer mens oorweeg om ’n tree nader aan iemand te beweeg. “Mens kyk altyd maar dinge mooi uit en of die ander persoon dieselfde voel voor jou ’n tree vat en nader beweeg aan mekaar, en dan die kans vat om jou hart op die spel te sit,” verduidelik sy. “Ek glo dinge moet altyd van twee kante af kom – om mekaar in die middel te kry en dit te maak werk. Dit kan jou liefde vir mekaar wees, of na ’n verskil, om mekaar in die middel te kry om deur dit te werk.”
Franja beskryf ook hoe die liedjie geïnspireer is deur die Engelse sêding “meet me halfway” en die droom van ’n tropiese vakansie saam met die liefde van jou lewe. “Ek het gedink aan ’n tropiese vakansie saam met die liefde van my lewe met die skryf van die liedjie,” sê sy.
Liefhebbers van Franja se musiek hoef nie meer lank te wag nie – “Kry My In Die Middel” sal vanaf 7 Maart 2025 digitaal beskikbaar wees. Op dieselfde dag word die musiekvideo, vervaardig deur Gerduan Kemp, ook vrygestel. Met sy pragtige visuele vertelling beloof die video om die lirieke en gevoel van die liedjie perfek vas te vang.
Met sy aansteeklike ritme en ’n opbouende “feel good”-atmosfeer, is hierdie liedjie perfek vir enige kuierplek – of dit nou op die dansvloer of rondom die braaivleisvuur is. “Kry My In Die Middel” is hier om jou te laat saam sing, dans en langarm!
Kyk die musiekvideo hier:
Moenie uitmis nie – Franja du Plessis se splinternuwe enkelsnit gaan beslis ’n groot treffer wees!