Universal Musiek het pas ’n splinternuwe feesreeks bekendgestel wat die beste Afrikaanse musiek, kos en vermaak na gemeenskappe regoor die land bring! Hierdie opwindende fees, genaamd DorpToe, word in samewerking met 100% Afrikaans aangebied en beloof om ’n onvergeetlike ervaring vir feesgangers te skep.
Die missie van DorpToe is eenvoudig: “Om die ware feesgees na dorpe te bring en vir mense die kans te gee om hul gunsteling kunstenaars te beleef. In baie kleiner gemeenskappe is daar nie altyd toegang tot die land se topkunstenaars nie – en ons gaan dit verander,” sê Leozelle Bekker, Afrikaanse platemaatskappy bestuurder by Universal Musiek.
Hierdie unieke feesreeks beloof van die grootste name in Afrikaanse musiek, heerlike kos, komedie en verrassings wat feesgangers sal laat skater. Verder word plaaslike diensverskaffers ondersteun om gemeenskappe te bemagtig en ekonomies te versterk.
Die eerste DorpToe-fees vind plaas op 16 en 17 Mei 2025 by Heartland Equestrian Estate in Brits. Dit gaan ‘n tweedaagse musiekfees wees met ‘n indrukwekkende lys kunstenaars wat optree:
Vrydag, 16 Mei vanaf 17:00 sal Demarie, Bibi, Pieter Smith, Ivan Roux, Appel, Early B en Justin Vega op die verhoog te sien wees.

Saterdag, 17 Mei vanaf 11:00 sal Sonder Onderbroeke, Demarie, Anzelle, Jemma Catherine, Fran Prins, Marno van der Merwe, JAN JAN JAN, Demi Lee Moore, Fatman, Lianie May, Jay, Bok van Blerk en DJ Sensasie op die verhoog wees.

Kaartjies vir hierdie nie-te-mis fees is nou aanlyn beskikbaar op Open Tickets. Maak seker jy bespreek jou plek vroegtydig om deel te wees van hierdie ongelooflike ervaring!
DorpToe is hier om ’n musiek- en vermaakfees na elke dorp te bring – mis dit nie!