FOTO: Willem Botha
Luna se heel eerste enkelsnit, Tot Daar Niks Meer Oor Is, het in April die radiogolwe getref. Die popliedjie het ’n vars, internasionale klank en is beslis ’n groot treffer onder die jonger geslag.
En die musiekvideo van die lekker danstreffer is sopas bekendgestel. Tylo Ribeiro van Inkglas het die video vervaardig en wou graag Luna se prettige persoonlikheid na vore bring. “Die video gaan oor baie lag, hope pret en lekker dans en kuier saam met vriende,” vertel Tylo. ”Dis lekker om nog jonk te wees en die video moedig jongmense aan om hulself te geniet.”
Luna is nou in matriek en dit is vir haar baie spesiaal dat van haar skoolvriende en vriendinne ook in die musiekvideo verskyn. “Dit was soveel fun! Ek het lanklaas so lekker gelag,” vertel die borrelende blondekop. “Om jou heel eerste musiekvideo te skiet is bietjie senutergend – maar ek was omring deur my besties en dit het eintlik gevoel of ek meer lag as wat ek moet sing vir die kamera!”
LEES OOK: Luna waai soos ’n vars bries in die Afrikaanse musiekmark
Die musiekvideo speel grootendeels af in ’n photobooth by ’n partytjie. Vir Luna is dit baie belangrik om spesiale oomblikke met haar vriende te koester – en vas te vang. “Ek is mal daaroor om memories te maak en dis altyd lekker om na ’n foto te kyk en terug te dink aan al die gelag en pret wat ’n mens gehad het,” deel sy.
Die Romeo in die musiekvideo, Brian, wat saam met Luna foto’s in die photobooth neem is ’n jarelange vriend van haar ouer broer, Zian. “Ek en Brian is omtrent soos boetie en sussie so dit het baie gehelp dat ons mekaar al lank ken – en mekaar lekker tussenin kon terg ook.”
Luna het nie op die oomblik ’n regte ‘Romeo’ in haar lewe nie. Sy wil fokus op haar matriekjaar voltooi en begin skaaf aan haar baie belowende musiekloopbaan. “Ek is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou, maar vir nou wil ek ook elke oomblik van my skoolloopbaan geniet, netbal speel, saam met my vriende kuier en my jongmenslewe embrace,” vertel sy met ’n huppel in haar stap. Net soos dit elke lewenslustige jongmens betaam.
Kyk die musiekvideo hier: