Luna waai soos ’n vars bries in die Afrikaanse musiekmark

FOTO: Willem Botha

Luna is ’n opwindende nuwe sangeres wat met haar eerste enkelsnit, Tot Daar Niks Meer Oor Is, ’n vars, internasionale klank tot die Afrikaansemusiekmark bring.

Dié liedjie is geïnspireer deur die liefdesverhaal van Romeo en Juliet wat alles op die lyn gesit het om bymekaar te wees. “Elke persoon verdien die tipe liefde waarvoor hulle elke stukkie van hulself wil gee,” vertel sy. 

Dis wel ’n liefdesliedjie, maar alles behalwe ’n ballade. Die voete gaan jeuk en die heupe gaan swaai op die poptreffer wat geskryf is deur bekende liedjieskrywer en ADAM-lid, Hugo Ludik. Nicholas Jordanen Brendan Ross Campbell van Rubber Duc het ook hand bygesit tot die lirieke en Muse Studios het die liedjie gemeng en vervaardig.

Die opwindende pop snit se stylvolle, kommersiëleklank gaan ’n groot gunsteling onder die jong, energieke generasie wees wat nuwe liefde ervaar. “Ek glo daar is ’n Romeo vir elke meisie daar buite en as jy daardie Romeo gekry het moet jy vasklou want ware liefde is skaars,” vertel die blonde skoonheid oor wat die liedjie vir haar beteken. “Gee elke dag jou alles.”

“Shoot for the moon – if you miss, you’ll end up in the stars.” Dit is haar motto in die lewe en ook waar sy die inspirasie vir haar naam gekry het. Luna is die Romeinse godin van die maan. Sy is jonk, energiek met ’n onblusbare passie vir Afrikaans en met hope talent is Luna beslis een om dop te hou! 

Hierdie is die eerste van vele enkelsnitte vir Luna. 

  • Tot Daar Niks Meer Oor Is sal vanaf 30 April beskikbaar wees op alle digitale platforms.