FOTO: Verskaf
Jo Black, ’n gesogde huishoudelike naam in die Afrikaanse musiekmark, is terug. Dié keer vat hy ’n groot sprong en sien sy eerste “Live” die lig. Sy gemaklikheid op die verhoog en agter die skerms (of deesdae aanlyn), maak hom iemand waarmee jy jouself kan assosieër. ’n Familie-man, wat sy foute kan erken en een wat eerder alles sal opoffer om ’n geloofsbesluit na te volg.
Met meer as 10-miljoen kykers op YouTube, sewe Ghoema-musiektoekennings en honderde optredes regoor die land op sy kerfstok, het die gebaarde musieksensasie, Jo Black, beslis geen bekendstelling nodig nie. Sedert die bekendstelling van sy debuut-album – Skepe – in 2016, en – Voel Jy Die Genade – in 2019 het sy werk ’n ongelooflike impak gehad op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en vanjaar vier hy die genade van sy suksesvolle loopbaan met die vrystelling van ’n eerste “live” album.
Die album bied ’n unieke mengsel van liedjies wat hy gesing het voor +- 8 000 mense einde 2019 in die Sun Arena saam met sy vriend Roan Ash. Jo wou hê, die mense wat daar was moet elke oomblik weer herleef en ook dat die mense wat nie daar was nie, saam in die vreugde kan deel.
Alhoewel Jo meen dat daar verskeie liedjies op die album is, waarvan hy hou bly Spring een van sy gunstelinge. “Hoeveel is jy bereid om te waag om uit jou gemaksone te trap, stap of spring? Soms moet ’n mens net daardie sprong waag. Ons betree altyd die onbekende met ’n waagsprong, maar wie nie waag nie, wen nie. Dit is die hart van hierdie liedjie. As jy vandag daardie besluit neem, is jy môre al een sprong nader aan dit waarvoor jy gehoop het. Al wat jy moet doen is glo en SPRING. Die wysie is ’n opbou van die wegspringblok. Die trefkrag is ’n opbou van musiek met ’n bevrydende gevoel.” Na hope sukses vir Jo bewys dit dat hierdie geloofsprong beslis die moeite werd was.
Jo, wat van kleins af lief was vir musiek, het nooit gedink dat dit eendag sy loopbaan sou word nie. Vir hom moet musiek driedimensioneel wees. “Dit moet nie net strelend op die oor wees nie, maar ook met die hart en siel praat en aanklank vind by gehore,” meen hy. “Wanneer ek terugkyk op hierdie reis, besef ek dat alles net genade was. Ek hoop dat dit mense sal help om ook die genande in hulle eie lewens raak te sien en te ervaar.”
- Jo Black se live-album kan nou op alle groot digitale musiekplatforms soos Apple Music, Spotify en JOOX sowel as musiekwinkels landwyd.