FOTO: NDW Photography
Die rockgroep, Wit Kasteel, se nuutste enkelsnit, Toegewyd, is gedurende Junie 2020 vrygestel, en ongelooflik goed deur radiostasies landswyd ontvang. Dié dinamiese groep stel nou die musiekvideo van die lied vry.
Toegewyd kom uit die groep se eie pen en is saam met Hugo Ludik van Muse Studios aanmekaar geslaan. “Die liedjie gaan oor die moeilike tye in die lewe. Die doel is om mense te bemoedig om in sulke tye ‘toegewyd’ te bly aan hulleself en om aan te hou en deur te druk,” deel die viermanskap oor die boodskap agter hulle nuutste enkelsnit. “Jou verlede bepaal nie jou toekoms nie, maar eerder jou positiewe gesindheid. Die moeilike tye bou karakter. Moet dit nie vergeet nie, maar leer daaruit en gebruik dit tot jou voordeel.”
LEES OOK: Wie’s wie met Wit Kasteel
Die snit, wat beskryf kan word as kommersiële rock, val lekker op die oor en sal aanklank vind by luisteraars van alle ouderdomme. Volgens die manne is hierdie tipe liedjie presies wat mense nodig het in hierdie tyd: “In die huidige situasie waarin ons onsself bevind, dink ons dit is ’n belangrike boodskap. Ons het al baie gevoel dat die toekoms onseker is, persoonlik ,en in ons loopbaan. In die verlede was daar gevalle van valse hoop, en menigte struikelblokke. Maar ons het ons kenne hoog gehou en aangehou om hard te werk vir wat ons wil hê.”
Die musiekvideo is vervaardig deur Damien Els en Steven Brooks Hartman, terwyl Damien ook die regie behartig het. Die konsep was oorspronklik Clemond (hoofsanger) se idee. Die storie gaan oor ‘n danser/ballerina (Cara-lee Crafford), wat frustreerd is en sukkel met haar routine. Sy bly egter Toegewyd en kom die mas op aan die einde van die video. Die video is in ’n skuur in Johannesburg geskiet.
Kyk die musiekvideo hier:
Die groep bestaan uit Clemond Gregory Dartnall (hoofsanger en ritmekitaarspeler), ’n doodnormale familieman wat in ’n musikale huis grootgeword het en sy liefde vir ou musiek by sy ma geëerf het.
Ernst Nieuwoudt (hoofkitaarspeler), oorspronklik vanaf die Paarl, maar lankal nou ‘n ingewortelde Pretorianer wat vir ’n maatskappy werk wat ERP-sisteme ontwikkel. Hy het self in ’n baie musikale huis grootgeword.
Reinard Kruger (baskitaarspeler en agtergrondsanger), wie deur ander mense se stories isnpireer word en ook ’n Pretorianer. Hy voel goeie musiek moet gevoel word en het nog altyd ’n baie groot passie daarvoor gehad.
Waldemar Behr (dromspeler en sanger), wat vir ’n IT-maatskappy werk en baie gemakliker agter die skerms voel as in die kollig. Hy is ook ’n Pretorianer en alhoewel sy musiekloopbaan amptelik in die kerk se blaasorkes begin het, het hy besluit om dromme te leer speel toe sy vriende ’n musiekgroep wou begin op skool.
“Ons voel dat ons ’n baie unieke klank na die mark toe te bring wat nog nie bestaan nie. Klassieke rockmusiek is vir ons die lekkerste om te speel, omdat dit die beste stories vertel en ons wil graag die beste verhale met luisteraars deel,” sluit hulle af.
Kyk hier na agter-die-skerms foto’s:
Toegewyd is ook die eerste vrystelling vanaf hulle tweede album wat later vanjaar beskikbaar sal wees.