FOTO: Verskaf
Die sanger Hugo Nieuwoudt, het pas sy splinternuwe enkelsnit Toekomsbladsy vanaf sy nuwe album Net Soos Die Sneeu, vrygestel. Die snit beloof ook om ’n nuwe bladsy vir sy toekoms te wees…
Toekomsbladsy, ’n Afrikaanse popliedjie, is ’n tipiese liefdesliedjie wat die storie vertel van hoe die seer in enige verhouding uitgevee word, en ’n nuwe skoon bladsy wag omgevul te word. Dit gaan oor die hoop nؚá die seer.
Die bekende liedjieskrywer en musikant, Johan Brits het die enkelsnit geskryf. Johan is bekend vir verskeie treffers en sien baie uit na Hugo se sukses. Werner Beukes het die vervaardiging behartig en gesorg vir dié kwaliteit produksie. “Die liedjie gaan oor die persoon wat vra dat jy haar in jou vertroue sal neem, en al die seer van die verlede uitvee – om deur alles jou hand in hare te sit en saam die toekoms aanpak,” vertel Hugo.
Volgens Hugo wil hy nes sy vorige snit Ek Wil Lewe Vir Môre, ’n positiewe boodskap oordra en ’n verskil maak deur musiek. “Ek wil hê my gehoor moet met my liedjies kan assosieer. Die titel van die nuwe liedjie het dadelik my aandag gevang, en toe ek dit vir die eerste keer hoor was ek verlief op die melodie en lirieke,” sê hy.
Hugo hoop dat die publiek die liedjie goed sal ontvang en meen dat Toekomsbladsy al die elemente bevat, waarna mense soek: motiverende lirieke en melodië.
Luister hier na ’n voorskou:
Benewens die uitreiking van sy nuwe enkelsnit en musiekvideo daarvan, word Hugo se nuutste album Net Soos Die Sneeu op Donderdag, 10 Mei in die Kraaifontein Stadsaal bekendgestel aan die publiek.
Verder in die pyplyn gaan Hugo ook toer met die nuwe album en ’n buitelandse toer wink dalk binnekort vir die begaafde sanger.