Met amper vyf miljoen kyke binne twee jaar het Prop se debuut-enkelsnit, “Kwaaitjie”, sedert sy vrystelling in Augustus 2022 die Afrikaanse musieklandskap ingrypend verander. Die snit, wat saam met die vollengte album “Sing Hoop Weerklink” uitgereik is, het vinnig aan momentum gewen en die kunstenaar as ’n huishoudelike naam gevestig. Die album bevat ook treffers soos “Two Tone Is Tops” en “Bosveld Vakansie”, wat verdere bewys is van Prop se talentvolle aanslag op die Afrikaanse musiektoneel.
Na die sukses van “Kwaaitjie” het Prop voortgebou op sy momentum met ’n reeks gewilde treffers, insluitend “Sera Sê Ja”, “Gogga”, “Like Jou Soos Biltong”, en “Hasie Hop” – ’n unieke herinterpretasie van Al Debbo se klassieke “Hasie”. Sy liedjie “My Saire Wil Lê” het ook diep in aanhangers se harte ingekruip. Met meer as 70 000 maandelikse luisteraars op Spotify en hoë posisies op verskeie speellyste en radiostasies, is dit duidelik dat Prop se musiek ’n blywende impak het.
Met Valentynsdag op hande bring Prop weer ’n vars aanslag met sy nuutste enkelsnit, “Ware Liefde”. Soos sy vorige musiek, kyk hy met ’n satiriese en menslike blik na liefde, wat luisteraars laat lag terwyl hulle oor hul eie verhoudings nadink. Die lirieke van die liedjie inspireer, herinner aan die eenvoud van liefde, en laat ’n mens wonder of die klein irritasies in ’n verhouding regtig so belangrik is. Die melodie is aansteeklik en maklik om saam te sing – ’n resep vir ’n treffer wat in aanhangers se ore gaan vassteek.
Die produksie van “Ware Liefde” is in die bekwame hande van Murray Lubbe, wat reeds verantwoordelik was vir meeste van Prop se musiek, sowel as vir kunstenaars soos Juanita du Plessis, Appel, Jo Black en Brendan Peyper.
As liedjieskrywer het Prop se kreatiewe vermoë al musiek opgelewer vir van die grootste name in die bedryf, insluitend die legendariese Laurika Rauch. Hy het ook vir ’n dekade saam met Robbie Wessels op die verhoog verskyn, waar hy sy vaardighede as ’n musikant geslyp het.
Buiten sy musiekloopbaan is Prop ’n gekwalifiseerde argitek en ’n trotse ambassadeur vir Helpende Hand, waar hy ’n inspirasie is vir ander ondanks die uitdagings van ’n skeletgestremdheid. Boonop is hy ’n toegewyde pa en man, wat sy lewe aan sy familie en sy passie vir musiek wy.
Prop se kreatiewe fontein blyk onuitputlik te wees. Hy is tans besig om aan nuwe enkelsnitte te werk vir die komende jaar, waarvan reeds een opgeneem is en nog twee in die ateljee gefinaliseer word. Sy musiekreis is dus ver van klaar, en aanhangers kan uitsien na nog treffers wat die Afrikaanse musieklandskap verder gaan verryk.
