Die talentvolle Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en vervaardiger, Vincent Gordon, stel met trots sy vyfde enkelsnit, “Eendag vir Altyd”, vry. Hierdie pragtige liedjie, geskryf deur Tanya Schade en vervaardig deur Gordon self by VGM Productions, vertel ’n roerende verhaal van liefde en toewyding. Met ’n unieke plaaslewe-atmosfeer fokus die liedjie op daardie een spesiale dag wat vir altyd in ’n mens se hart bly.
Die oorsprong van die liedjie is besonders – dit is aanvanklik as ’n trougeskenk vir vriende van Schade geskryf. Dit vang nie net die liefde tussen die paartjie vas nie, maar bring ook vir Gordon herinneringe aan sy eie huweliksdag terug. “Ek like dit om mense spesiaal te laat voel,” vertel Schade. Sy het ’n nuwe waardering vir die liedjie ontwikkel na Vincent se verwerking daarvan: “Nadat Vincent sy ‘magic’ gewerk het, het ek op ’n hele ander wyse verlief geraak op hierdie liedjie,” deel sy.
LEES OOK: Vincent Gordon verruil bekende popklanke vir ‘Die Onbekende’
Vincent hoop dat “Eendag vir Altyd” luisteraars sal terugneem na hulle eie spesiale oomblikke of hulle sal laat droom oor toekomstige herinneringe. Hy beskryf die liedjie as ’n eerlike en emosionele komposisie met ’n vars Afrikaanse popklank. “Dit is ’n liedjie wat jou sal laat terugdink aan jou groot dag of jou laat droom oor wat kom,” sê hy.
Vincent het reeds op negejarige ouderdom begin optree en sedert 2013 is sy musiek gereeld op verskeie radiostasies te hoor. Hy beskryf sy stem as smaakvol en nuut, met ’n unieke Afrikaanse popstyl. Sy loopbaan het deur die jare gegroei met talle suksesse, insluitend drie nommer een treffers op Bosveld Stereo se Afrikaanse TOP 20. Hierdie nuwe enkelsnit is egter spesiaal, aangesien dit sy eerste trou-tema liedjie is.
Buiten sy eie musiek, skryf en vervaardig Vincent ook vir ander kunstenaars. “Dis vir my lekker om ander se drome waar te maak,” sê hy. Sy ateljee, VGM Productions, is ’n kreatiewe ruimte waar kunstenaars gemaklik voel en hulle musiek tot sy volle potensiaal ontwikkel kan word.
Vir 2025 het Vincent groot planne: “Ek wil soveel as moontlik musiek uitbring en kyk hoeveel vertonings ek kan doen die jaar,” vertel hy opgewonde. Hy werk tans saam met Christene de Klerk van Embrace The Brand Media, ’n invloedryke figuur in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy grootste prestasie tot dusver is die vrystelling van sy volledige album, waarin hy sy hart en siel geplaas het. Sy groot treffer “Stap soos Karlien” is ’n bewys van sy sukses.
Vincent het reeds verskyn op gewilde TV-programme soos JAM, Skoonma se Tong en Die GROOT Ontbyt. Hy is ook gereeld te hoor op radiostasies soos Groot FM, Hosa Radio en Bok Radio. Sy werk by VGM Productions sluit samewerkings in met Dirk van der Westhuizen en Ramey Short, wat sy invloed in die bedryf verder verstewig.
Met sy vyfde enkelsnit “Eendag vir Altyd”, bewys Vincent Gordon weereens sy veelsydigheid en talent as sanger en vervaardiger. Die liedjie beloof om diep in die harte van luisteraars te resoneer en ’n blywende indruk te laat. Hierdie snit is ’n viering van liefde en die spesiale oomblikke wat ons vir altyd koester.
