FOTO: Verskaf
Dit is skaars ’n jaar sedert Suid-Afrika se gunsteling manlike popgroep, ADAM, in hulle nuwe formaat (Hugo Ludik, Kyle Grant en Christoff de Beer) begin optree het en om twaalf maande van opwinding en sukses te vier, word bewonderaars met ’n splinternuwe liedjie bederf.
Flippen Skaars is ’n lekkerluister-popsnit, uit Hugo Ludik se eie pen en ateljee, wat jou uitnooi om saam te sing en vir luisteraars vertel hoe spesiaal hulle is.
“Dit gaan oor iemand wat al ’n ruk lank in ’n verhouding is en besef dat hy nie vir sy ander helfte genoeg vertel hoe besonders sy is nie,” verduidelik Hugo. “Ek het dit geskryf omdat ek self gesukkel het om my gevoelens uit te druk toe ek jonger was. Dit het makliker geword met tyd en ek maak ’n punt daarvan om vir my vrou te sê hoe lief ek haar het en hoe spesiaal sy vir my is.”
Volgens dié musikant en vervaardiger, is die doel van die liedjie om hoop te gee in moeilike tye waarin jongmense sukkel met selfbeeldprobleme en geestesgesondheid; om hulle te laat besef hoe uniek en spesiaal hulle is en dat ’n persoon se waarde nie bepaal word deur hoeveel volgelinge hy/ sy op sosiale media het nie.
Flippen Skaars is die groep se vierde vrystelling in sy huidige formaat en volg in die voetspore van Liefde Is, Come Again en Pa se Hand, wat almal goed ontvang is en bo-aan verskeie treffersparades gepronk het.
“Ons drie werk ongelooflik lekker saam. Christoff is ’n uitstekende musikant en liedjieskrywer en hy het ons volgende enkelsnit, wat vroeg volgende jaar beskikbaar sal wees, geskryf. Om deel te wees van ADAM is soos om saam met jou broers/ beste vriende musiek te maak; ’n groot voorreg,” deel Hugo.
ADAM maak al sedert 2011 opslae in die Afrikaanse vermaakbedryf en het al talle musiektoekennings (Ghoema en SAMA), goue albums en radio-treffers op hulle kerfstok.
Hulle energieke optredes, unieke klank en pragtige lirieke het van die begin af aanklank gevind by gehore van alle ouderdomme en vir hulle optredes losgeslaan by van die grootste geleenthede, feeste, skoue en funksies in die land.
Die trio verklap dat hulle hard aan die werk is om nuwe liedjies op te neem vir volgende jaar en dat hulle soveel as moontlik op die verhoog wil wees oor die volgende paar maande.
Flippen Skaars is ’n goedvoel-liedjie, met ’n inspirerende boodskap, en is nou aanlyn beskikbaar.