FOTO: Verskaf
JP White, ’n sag-op-die-oog sanger en liriekskrywer van die Oos-Rand, het pas sy nuutste enkelsnit Onbeplan vrygestel en dit is niks anders as pure luistergenot vir die goedontwikkelde pop-rock oor nie.
JP, wat op die brose ouderdom van vyftien bekendheid verwerf het as hoofsanger van die rockgroep Radikaal, se stem het die afgelope sestien jaar ontwikkel totdat sy basstem pasknap is vir die pop-rock genre waarin hy nou sing.
Radikaal was veral destyds gewild onder die jeug en sy ondersteuners het saam met hom groot geword en musikale volwassenheid bereik. Hoewel JP se lirieke kwaliteit spreek is dit veral sy windwaai-lekker stem waaroor daar al sedert sy rockdae gehalleluja word– die stem wat ’n plek vir Radikaal tot bo-aan die hoogste rocktoring oopgesing het.
JP vertel laggend dat hy kon sing voordat hy kon praat, en dat sy sukses te danke is aan die wysies en liedjies wat al sedertdien kindsbeen aan sy lippe hang. “Nadat ek gematrikuleer het, het Radikaal ontbind. My mede-rockers se paaie het in ander rigtings gedraai, maar ek het hardkoppig vasgeskop en aanhou musiek maak en sing. Ek het by kuierkroeë opgetree, vir ’n Idols-oudisie gegaan, vir groot kunstenaars voorvertonings gedoen en by kunstefeeste opgetree.”
Sy musiekpad het nie bestaan uit vonkelwyn en aarbeie nie. “Daar was baie moeilike dae,” erken hy.
Hy het egter eers in 2016 twee enkelsnitte Een uit ’n miljoen en Twyfel uitgereik wat op plaaslike radiostasies se toptrefferlyste gedans het. Die liedjies het van hom ’n huishoudelike naam gemaak en het ook uitgevloei op ’n paar musieknominasies waaronder beste manlike sanger.
Hy het in 2019 sy debuutalbum Verslaaf bekendgestel en musiekkritici het die album geloof vir die vars perspektief waaruit hy sy liedjies en musiek benader.
Met Onbeplan volg hy in dieselfde musiekpatroon waarvoor hy bekend geword het – ’n vars uitkyk op onderwerpe soos die liefde wat baie maklik afgewaterde clichés kan word.
Luister hier na ’n voorskou:
JP het ’n unieke asemrige basstem (heeltemal anders as die musiekmark wat deur die alte, tenore en baritone oorgeneem word) wat by baie musiekliefhebbers sal byval vind.
Maar dit is veral die musikale produksie van Onbeplan waarop hy baie trots kan wees – dáárdie elektriese kitaarklanke tydens die openingsvers laat ’n mens se mond water vir die volgende versreël en die volgende en die volgende…
JP se liefde vir sy moedertaal, vir Afrikaans vind ook neerslag in sy lirieke. “Ek wil in geen ander taal sing nie,” sê hy.
“Ek kan nie genoeg kry nie van jou nie…” sing hy in die koorgedeelte.
Sy aanhangers se sentiment is dieselfde: “Ons kan nie genoeg van JP kry nie.”