Die bekroonde Theuns Jordaan Tribute-konsert, wat reeds op Loftus Versfeld en die DHL-stadion voor skares van meer as 20 000 mense plaasgevind het, sal op 9 Augustus 2025 na Amsterdam se Afas Live Arena verhuis. Hierdie eenmalige geleentheid bring die grootste name in Suid-Afrikaanse musiek bymekaar om hulde te bring aan die lewe en nalatenskap van die ikoniese Theuns Jordaan.
Die konsert se sterbelaaide rolverdeling sluit kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Ray Dylan, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Jay du Plessis, Gerhard Steyn, Liezel Pieters, Dewald Wasserfal, Jacques du Plessis, en Bok van Blerk in. Hierdie kunstenaars deel ’n diep persoonlike verbintenis met Theuns en was aktiewe rolspelers in sy loopbaan en lewe.
Die produksie word gelei deur die gesoute vervaardigers Deedee en Floors Oosthuizen asook Murray Lubbe, in samewerking met Jacques du Plessis, een van Theuns se jarelange vriende en medewerkers.
Jacques du Plessis, wat vir byna 15 jaar saam met Theuns opgetree het, beskryf die konsert as ’n hoogtepunt in sy loopbaan. “Ons is in verwondering oor die enorme impak wat Theuns op mense regoor die wêreld gehad het. Sy musiek en nalatenskap is tydloos, en dit is vir ons ’n groot voorreg om hierdie huldeblyk na Amsterdam te bring,” sê hy.
Hy voeg by dat aanhangers kan uitsien na ’n wye verskeidenheid van Theuns se musiek, van sy gewilde partytjie-liedjies tot die diep lirieke uit die vroeë dae van sy loopbaan.
Bobby van Jaarsveld, wat ’n spesiale verbintenis met Theuns gehad het, sê dat hy dit as ’n groot eer beskou om deel te wees van die Tribute. “Theuns was nie net ’n mentor nie, maar ook ’n vriend. Hierdie huldeblyk is werklik iets besonders.”
Die kapasiteit van die Afas Live Arena is beperk tot 6000 mense, wat beteken dat hierdie konsert ’n intieme, maar kragtige geleentheid gaan wees. Kaartjies is beskikbaar via TIQS.
Die Theuns Jordaan Tribute-konsert beloof om nie net die lewe van ’n legende te vier nie, maar ook om die unieke klanke van Suid-Afrika na ’n Europese verhoog te bring. Maak seker jy mis nie hierdie geskiedkundige gebeurtenis nie.