Ná vier jaar se wag is die sanger en liedjieskrywer Riaan Benadé slaggereed om nuwe musiek vry te stel! Dit volg op sy debuut-album Spontaan wat in 2020 vygestel is en van Riaan een van die suksesvolste Afrikaanse kunstenaars gemaak het.
Stoom, die tweede enkelsnit vanaf Riaan se langverwagte nuwe album, Die Lot is sopas vrygestel en vertel hoe stomerig die huwelik nog kan wees op enige ouderdom.
“Die liedjie gaan oor hoe jy jou verhouding interresant moet hou, en hoe jy dit self moet laat stoom sodat dit nie verveelig raak nie,” het Riaan gesê.
Volgens Riaan, wat dié liedjie saam met Paulo Azevedo geskryf het, het sy huwelik met sy vrou Melissa bygedra tot die inspirasie van hierdie pop- en kontemporêreliedjie.
“Die liedjie beteken nogal baie vir my en my vrou omdat dit op ’n mate die manier is hoe ons, ons eie huwelik benader en op ’n sekere standaard hou. Dis ook ’n lekker tune en gee ’n aanduiding van waarnatoe die nuwe album op pad is,” het Riaan gesê.
“Dis ’n lekker twist op ’n sakkie liedjie en ek glo dit gaan by partytjies gespeel word. Ek hoop mense kan dink oor my musiek en op dieselfde tyd dit geniet.”
’n Musiekvideo vir Stoom wat by Ons Tuis Emily Hobhouse in Pretoria en die Bronkhorstspruit Dam verfilm is, is ook nou op YouTube te sien. Dié musiekvideo is deur Eric Graham en Tehan Buys vervaardig en Riaan se vrou Melissa is ook in dié tong-in-die-kies musiekvideo te sien. Die aktrise Edrien Erasmus maak haar verskyning as die matrone.
“Dit gaan oor twee oumense in ’n ouetehuis wat besluit hulle wil ontsnap om ’n piekniek te gaan hou. Die mense hou hul dop en hulle wil seker maak hul huwelik stoom nog,” het Riaan gesê.
Riaan se nuwe album Die Lot, wat op 12 April vrygestel word, bestaan uit tien snitte en sluit drie samewerkings in. Hemel en Hel saam met Demi Lee Moore, Vertrou My saam met Marno van der Merwe en Georic Lomas en Ken Jy Die Land saam met sy pa Franna Benadé. Laasgenoemde is ’n verwerking van die bekende FAK-liedjie met dieselfde titel.
Kyk die musiekvideo hier:
Riaan sonder egter sy eerste optrede by Afrikaans is Groot in 2022, sy voorprogram vir Kip Moore en sy duet met die internasionale countryster Ian Munsick as een van sy grootste hoogtepunte in sy loopbaan uit. Verder beplan Riaan ook om nog baie musiek te skryf.
- Stoom is nou op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music beskikbaar. Vind die liedjie hier.
- Die Lot, Riaan se tweede album, word 12 April vrygestel.