Universal Musiek (2019)
[yasr_overall_rating]
Deon Groot se selfgetitelde tweede album bied ’n splinternuwe klank, styl en karakter, wat stories op ’n eietydse, Namakwalandse manier vertel. Dit volg kort op die sukses van sy debuutalbum, Gee My Oor, wat vir hom reusetreffers soos Bietjie Liedjie en Lepellê opgelewer het. Hierdie talentvolle boorling van Alexanderbaai in die Namakwaland, wat vir die afgelope vyftien jaar reeds aktief binne die plaaslike musiekbedryf werksaam is, het toevallig in dié bedryf beland nadat hy in 2007 ’n karaoke-kompetisie in ’n kuierplek in Centurion gewen het.
Die informele album omslag ontwerp, waarop Deon op sy arms vorentoe leun en direk in die kamera staar, word hoofsaaklik deur verskillende skakerings van bruin en grys gekenmerk om sodoende ’n growwe tekstuur te kan bewerkstellig. Die titels van al elf snitte op hierdie album, wat in verskillende style, groottes en rigtings aan die binnekant afgedruk is, verleen ’n byna skilderagtige voorkoms aan die omslag. Dié album bestaan uit nege oorspronklike Afrikaanse snitte, waarvan Deon vyf alleen en die ander vier saam met sy tromspelervriend, Louwrens Bezuidenhout, geskryf het.
Die eerste enkelsnit vanaf dié album, Wyn, is ’n energieke dansliedjie met ’n aansteeklike ritme, wat luisteraars daaraan herinner om hulleself te geniet, ongeag die gebeure rondom hulle soos liefdesprobleme, werkstres en politiek. Die tweede enkelsnit vanaf dié album, Ek Sweer, is ’n kragtige liefdesballade, waarin die skrywer ’n aangrypende terugblik op verlore liefde, gebroke harte en verbrokkelde verhoudings bied. Ander potensiële treffers sluit in Prikkel, Hemelpoorte, Pienk Blomme en Maak Soos In Namakwaland.
Deon se vertolking van Wicked Game, ’n lied deur die Amerikaanse rockmusikant, Chris Isaak, vanaf sy derde ateljee-album, Heart Shaped World, wat oorspronklik in 1989 uitgereik is, dien as die perfekte vertoonvenster vir sy growwe rasperstem en vokale vernuf. Angus Young en Brian Johnson van die Australiese harde rock band, AC/DC se treffer, You Shook Me All Night Long, vanaf hulle albums, Back in Black, sowel as Who Made Who, pas sy informele styl van sorgvrye kuiermusiek soos ’n handskoen. Hierdie album word ongetwyfeld op ’n hoogtepunt afgesluit met Slaap Nou Sag, ’n ode aan wyle Leah, oftewel “Lielie Muis”, soos haar pa, Gertjie de Jager, ’n bekende radio-omroeper by LuisterFM, haar genoem het, nadat sy gedurende Januarie 2019 haar stryd teen gekombineerde immuniteitsgebreksindroom verloor het.
Hierdie gesellige album spog met ’n mengsel van moderne country, pop en rock, wat deur Jake Odendaal en Danny Smoke op klawerbord, asook kitare, sowel as Jake Odendaal op baskitaar en Thinus Odendaal op dromme bewerkstellig word. Jake Odendaal en Danny Smoke was egter ook vir die produksie en finale meng daarvan verantwoordelik.
Dié eenvoudige, dog treffende album handhaaf deurlopend die perfekte balans tussen liefdes- en partytjieliedjies, wat vanaf baie ernstig tot skreeusnaaks wissel. Hoewel dit getrou bly aan Deon se kenmerkende Namakwalandse styl, slaag dit egter ook daarin om nie ’n breër gehoor in die proses te vervreem nie. Deon Groot met sy eerlike lirieke sowel as goeie melodieë sal aanklank vind by enigeen wat hou van stories vertel en dans, asook goeie geselskap geniet.