IB ENTERTAINMENT (2020)
Rinél Coetzer, beter bekend as Rinél Day, se derde ateljee-album, Ek Het Opgestaan, wat uit ’n interessante mengelmoes van country- en popmusiek bestaan, beloof om luisteraars met ’n hernude lewenslus en hoop vir die toekoms te vul. Dit volg ses jaar ná die uitreiking van Dit Staan In Die Sterre, haar Ghoema-benoemde album in die kategorie vir Beste Kontemporêre Album deur ’n Vroulike Kunstenaar, waarvan die titelsnit as ’n bonussnit op hierdie album ingesluit is. Sy was ook saam met Emil Struwig deel van die groep, Jane Duke, wat met hulle liedjie, Hemel In Jou Oë, een van die Afri-Visie liedjieskryfkompetisie se Top 26-finaliste was.
Die moderne album omslag ontwerp met sy byna skilderagtige afwerkings deur Lizae Visser van Hook’em Graphics, waarop Rinél skouerhoogte in die water sit, simboliseer die titelsnit wat vertel hoe sy uit die troebel waters van gebrokenheid opgestaan het. Werner Beukes wat die produksie en verwerking van hierdie album behartig het, was ook vir alle instrumente en agtergrondstemme daarop verantwoordelik. Dit bestaan uit dertien oorspronklike snitte wat Rinél en Werner met die insette van verskeie ander persone geskryf het, insluitend bydraes deur die liedjieskrywers, Johann Oberholzer en Marthinique Lombard (Latsky).
Die titelsnit en eerste enkelsnit, Ek Het Opgestaan, is ’n inspirerende lied oor die moeilike tyd wat Rinél ná haar egskeiding beleef het toe sy haarself weer moes vind terwyl sy nog die stukkies van haar hart opgetel het. Die tweede enkelsnit, Breek Die Mure Af, is ’n voetstamplekker popsnit met ’n speelse ritme wat vertel hoe ons almal bereid is om ons mure te laat sak vir die een wat ons liefhet en om daardie persoon volkome te vertrou.
Die roerende pleidooi, Huil Oor Jou, in die vorm van ’n ope brief aan ons geliefde vaderland, Suid-Afrika, skroom geensins om die verdeeldheid en onenigheid binne ’n hedendaagse reënboognasie aan te spreek nie. Ander potensiële treffers sluit in Gyselaar, Hier Om Te Bly, Jy’t My Gered, Is Jy Alleen?, Maak My Joune en Vlieg Oor Die Maan.
Hierdie album bevat verder ook Rinél se aangrypende vertolking van Katherine Darnell se geestelike lied, Rescue Me, asook haar duet, Ons Is Liefde, saam met Riaan Grobler. ’n 80’s Medley bestaande uit die immergewilde treffers, Leave A Light On, Spanish Eddie en How Do You Do? saam met haar vervaardiger, Werner, sluit dié album op ’n hoogtepunt af.
Rinél slaag oudergewoonte met die kleurryke ondertone in haar strelende stem daarin om luisteraars een oomblik na ’n ander wêreld mee te voer en dan die volgende oomblik weer te laat regop sit. Hoewel hierdie album nogal heelwat van die rustiger aanslag op haar vorige albums verskil, bied dit steeds ’n gesonde balans tussen haar kenmerkende danstreffers en sielsballades wat grotendeels op ware gebeure, asook gevoelens, uit haar persoonlike lewe geïnspireer is. Ek Het Opgestaan met sy betekenisvolle lirieke, meesleurende wysies en aansteeklike ritmes sal aanklank vind by diegene, wat al ervaar het hoe ’n beter en sterker mens telkens uit die pyn en seerkry wat hulle beleef het, gebore is.