VKB Bieliemieliefees 2019: ’n Bielie van ’n fees

Vir die VKB Bieliemieliefees wat in 2019 vir die 38ste keer aangebied word, is alles ingesit om dit selfs beter én lekkerder as enige ander fees te maak!

Daar’s geen ouderdomsbeperking op pret nie, dus as jy oud of nog jonk genoeg is vir pret, is Reitz die plek vir jóú van 14 tot 17 Febuarie 2019, want dit gaan ’n bielie van ’n fees wees.

KLIK HIER EN VOEG DIE FEES BY JOU DAGBOEK

Vanjaar lei drie opvoerings ten bate van die Hoërskool Reitz die fees in. Gehore sal op 11 Februarie kan identifiseer met die drie broers in die toneelstuk Nêrens Noord-Kaap waarin die broers, wat elkeen hul eie pad stap en al vervreemd geraak het van mekaar, plaas toe moet kom vir hul pa se 60ste verjaardag.

Die tydlose Amanda Strydom sing op 12 Februarie haar gewildste en treffendste treffers van haar bykans 40 jaar in die vermaaklikheidsbedryf.

Op 13 Februarie kan diegene wat wil sien hoe hul dorpsgenote heeltemal buite hul aard optree, kom kyk hoe André, die skreeusnaakse hipnotiseur, dit regkry om mense onder hipnose dinge te laat doen wat jou sal laat krul van die lag.

Op Valentynsdag nooi Dowwe Dolla en Wicus van der Merwe jou om in hul vertoning Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe te kom skater.

Van die ander kunstenaars wat by die fees sal optree, sluit in Juanita du Plessis en haar ewe talentvolle kinders, Franja du Plessis en Ruan Josh, Bok van Blerk, Lianie May, Jay, Dirk van der Westhuizen, Dewald Wasserfall, Elvis Blue, Elizma Theron en die inspirerende Jo Black.

Sportentoesiaste kan deelneem aan gholf, krieket en visvang met groot prysgeld op die spel. Vir die Touch Rugby/Sewes-spelers beloop prysgeld R7 000 vir die wenspan. Pak dus jou balle, stokke, kolwe en visstokke in vir hierdie kompetisies.

Vanjaar is die Bieliemielie-marathon nie net ’n kwalifiseerder vir die Comrades nie, maar ook vir die Two Oceans-marathon. Atlete wat voorheen aan die Bieliemielie-marathon deelgeneem het, weet dat of jy nou die 5 km- of 10 km-pretdraf, die halfmarathon of die marathon hardloop, dit ’n lieflike roete bied.

Vir die manne (én vroue) met 4×4-voertuie is daar weer ’n hindernisroete met prysgeld van R10 000. En moet tog nie die Bulletjie-rugby- en netbal-kragmetings misloop nie! Hierdie items lok elke jaar groot belangstelling.

VKB Kook bied jou die geleentheid om saam met kykNET se gewildste sepiesterre pizzas te maak en een (of meer) van die verskeie pryse los te slaan.

Streepsakke, eiers, bokmis, mieliepitte, trekkerbande en wie weet wat nog alles, sal beskikbaar wees vir diegene wat aan die Boeresport(s) wil deelneem. Dit bly maar een van die gewildste items op die feesprogram!

Die VKB Bieliemieliefees is ’n gesinsfees en daarom word daar ruim voorsiening gemaak vir die kleinspan. ’n Baie betroubare oppasdiens word gebied vir kleingoed sodat hul ouers die hele feesterrein en al sy vermaak kan gaan verken. ’n Ballonkunstenaar, stelteloper, springkasteel en hope maatjies is maar net enkele van die vermaaklikhede wat die fees vir die kleingoed ’n onvergeetlike ervaring maak. En moenie van die pretpark vergeet wat die jaar nog groter met meer ritte vir jonk en oud.

Die SA Vleismerino-veiling, jongooi-kompetisie en uitstallings van beeste en boerbokke is nog van die staatmakers wat jaarliks groot belangstelling geniet, en met die groeiende belangstelling in die Bieliemieliefees onder stalletjieshouers wat van kos tot kraletjies, braairoosters tot bokvelmatte en juweliersware tot jasse verkoop, moes die komitee mooi besluit wie vanjaar ’n staanplek gaan kry.

Kaartjies vir die VKB Bieliemieliefees is nóú by jou naaste VKB-tak beskikbaar en sal ook tydens die fees by die hekke te koop wees.

KAARTJIEPRYSE:

Naweekkaartjie
Volwassenes – R250
Kinders (onder 13) – R120

Donderdag, 14 Februarie 2019
Volwassenes en Kinders (onder 13) – R60

Vrydag, 15 Februarie 2019
Volwassenes – R120
Kinders (onder 13) – R60

Saterdag, 16 Februarie 2019
Volwassenes – R120
Kinders (onder 13) – R60

Sondag, 17 Februarie 2019
Volwassenes en Kinders (onder 13) – Gratis

Die volledige feesprogram is beskikbaar op die Bieliemieliefees webblad.