Alle paaie lei van 15 tot 18 Februarie 2018 na Reitz vir die 37ste VKB Bieliemieliefees, en as jy nie daar gaan wees nie, gaan jy uitmis op ’n bielie van ’n fees!
Die VKB se Bieliemieliefees 2018 beloof om selfs nóg meer vermaak aan feesgangers te bied– of jy nou drie of 83 jaar oud is.
Volgens dié fees se webblad is die Afrikaanse TV-kanaal, kykNET ook aanboord as borg. “Dit beteken dat jy skouers sal kan skuur met van jou gunsteling sepiesterre. Kom neem die Saterdag deel aan die Boeresport om te sien watter Binnelanders-akteurs gaan dit waag om sakresies, eiergooi en vele meer aan te pak,” lui die verklaring.
En dis nie die enigste bekendes en beroemdes saam met wie jy sal kan kuier nie. Die sangers wat gaan optree en sorg dat daar behoorlik lyf geswaai word by die 2018 fees is A-klas.
Dit sluit kunstenaars soos, Die Campbells, Jonathan – Radio Raps, Snotkop, Adam, Bobby van Jaarsveld, Jo Black, Vernon Barnard (The Voice), Bouwer Bosch, Anders, Irene-Louise van Wyk, Wit Kasteel, Blomtrein en vele meer in.
Die fees spog ook met talle nuutjies op die feesterein. ’n Tentedorp aangelê met 193 kampeerplekke waar Bieliemieliefeesgangers kan tuisgaan is een van dié opwindende toevoegings. “Teen so min as R500 per persoon vir die hele naweek kan feesgangers hier oornag. Hierdie fooi sluit ook jou toegang tot die Bieliemieliefeesterrein in. Maar jy sal gou spring as jy ’n staanplek soek, want die belangstelling is groot,” lui die verklaring verder.
Een van die nuwe items op die 2018 fees se program is ’n 4×4-hindernisroete wat vir 4×4-entoesiaste groot plesier gaan verskaf.
By die 2018 fees sal die 42 km marathon ook vir die eerste keer dien as kwalifiserende marathon vir die Comrades 2018. Hierdie is dus ’n gulde geleentheid om die Bieliemieliefees by te woon as jy nog nie voorheen hier was nie, of as jy ’n verskoning soek om wel te kom.
Die Bieliemieliefees se bergfietsresies het ook al een van die gesogte wedrenne vir bergfiets-entoesiaste geword met ’n roete wat ewe veel uitdaging as natuurskoon bied. ’n Vierwielfietswedren (“quad-bikes”) sorg vir groot opwinding, en as jy een van die avontuurlustiges is, mag jy dit nie misloop nie!
Die jaarlikse Vleismerino-veiling is een van die items wat boere van reg oor die land jaarliks na die Bieliemieliefees lok. Dan is daar ook die jongooi-kompetisie en ook uitstallings van beeste en boerbokke.
Vir sportentoesiaste word daar vanjaar vir die eerste keer ook voorsiening gemaak. Kom speel op die plaaslike bane rolbal, gholf, krieket of veerpyltjies of bring jou visstokke saam en kom maak saam lyne nat.
Daar is weer soos in die verlede verskeie kompetisies. Skryf jou mooiste Bieliemieliefees-foto in of bring jou naaldwerk of die kleinspan se kinderkuns en wen vyf nagte verblyf vir vier persone by die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord in Bela-Bela.
Nog ’n nuwe item op Bieliemieliefees 2018 se program is die VKB-kookkompetisies. Sjef Ouma, Sjef Mamma, Sjef Tiener en Sjef Pappa se wenners wen elkeen pryse ter waarde van R5 000.
Kinders is net so deel van die Bieliemieliefees soos die volwassenes. Daarom is daar vanjaar nog ’n nuwe item op die program waar daar vir hulle voorsiening gemaak word by die Kinderkarnaval waar hulle kan speel, hulle gesigte laat verf, aan karaoke deelneem en ook vir Buster en Bella kan ontmoet te midde van hope ander vermaaklikheid. Gekwalifiseerde personeel sal na hulle omsien teen ’n uurlikse fooi terwyl Mamma en Pappa die skouterrein kan verken. En in die pretpark is dit lekker om sommer net weer heeltemal kind te wees.
Die Bulletjie-rugby- en netbal-kragmetings by die Hoërskool Reitz is ’n ou staatmaker op die Bieliemieliefees-program en lok elke jaar groot belangstelling.
By Bieliemieliefees 2018 is daar ook meer uitstallers en stalletjieshouers as voorheen. Uitstallers van plaastoerusting en -masjinerie sal weer hulle nuutste en grootste verkopers kom wys, terwyl stalletjiehouers van reg oor die land hulle mooiste ware saambring.
Tussen al die kosstalletjies waar Vrystaatse gasvryheid saam met heerlike kos en peuselhappies bedien word en die immergewilde Biertent waar nuwe vriendskapsbande gesmee en nuwes gevestig word, bly die mae vol en die kele geolie, en word dit net nóg ’n rede hoekom die VKB Bieliemieliefees elke jaar met etlike duisende besoekers groei.
Besoek gerus die fees se webblad en Facebook-blad vir meer besonderhede. Die volledige feesprogram kan hier afgelaai word.