Optog!: Tog te legendaries

FOTO: Verskaf

Ons land het geen te kort aan ikone nie en daarom toer die grootstes ook saam. Hierdie legendes is eersdaags in ’n dorp of stad naby jou te sien.

Konsert besonderhede vir Namibië en enkele ander bestemmings (soos aangedui) sal eersdaags beskikbaar wees.

LEES OOK: Optog! bring die kunste na jóú

Nataniël: Unplugged

Ten spyte van alle ander avonture, bestaan Nataniël se lewe en loopbaan eintlik net uit twee dinge: fantastiese stories en tydlose musiek.  In hierdie vertoning doen hy presies dit: hy vertel verhale wat jou meevoer, inspireer, verbaas, laat hoop en laat skaterlag. Hy sing liedere uit sy eie pen, asook splinternuwe weergawes van die van immergroen musiek uit die skatkis van soul, blues, pop, country, jazz en vergange rolprente.

Hy deel die verhoog met pianis, Charl du Plessis.  Kostuums is ontwerp deur Floris Louw.

90 minute / Geen pouse / Geen kinders onder 15.

KLIK HIER VIR KONSERT DATUMS

Nataniël: Four Loud People

Hierdie vertoning is ’n ontploffing van klank, melodieë, style, ritmes, fantasie, ontwerp en humor.

Nataniël vertel sy kenmerkende stories in Afrikaans en Engels, en maak musiek. Pop, blues, soul, jazz, oorspronklik en splinternuut, klassiek en immergroen. Hy inspireer, fantaseer, stel bloot, laat wenkbroue lig, bevraagteken, beantwoord, voer mee, troos en laat jou skaterlag.

Hy deel die verhoog met Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (bas) en Peter Auret (tromme). Sy immerverrassende versameling kostuums is deur Floris Louw ontwerp.

Boeke, CD’s en leefstylprodukte te koop by alle vertonings.

90 minute / Geen pouse / Geen kinders onder 15.

KLIK HIER VIR KONSERT DATUMS

Nataniël: Gesels

Vir meer as 20 jaar tree Nataniël reeds as spreker op. Hy word bespreek deur skole, universiteite, maatskappye, kerke, liefdadigheidsorganisasies en tydskrifte. Hy kom gesels met insig, deernis, humor en sonder vrees. Nou, vir die eerste keer bied hy sy praatjies in teaters aan!

Hy vertel stories, vermaak en verras, praat oor die plek van die individu in ’n gebroke samelewing, die afgryse van sosiale media, die waarde van kennis deel, elkeen se behoefte aan ’n spreekbeurt, gesondheid wat in die kop begin en ’n unieke oog wat lei tot ’n unieke lewe. Dit alles is die dryfkrag agter sy optredes, ook hierdie leefstyl-geleentheid. As die tyd dit toelaat, word vrae uit die gehoor beantwoord.

Plesierig, skreeusnaaks en roerend. Nataniël Gesels is ’n unieke ervaring!

KLIK HIER VIR KONSERT DATUMS

Laurika Rauch

Alle Suid-Afrikaners ken die heimweë wat met Laurika Rauch se musiek gepaard gaan en daarom sit sy héél voor in die bus.

Vir Laurika is dit ’n soort tuiskoms om betrokke te wees by Optog! Sy sê dat dit haar as’t ware ‘vol sirkel’ bring om weer meer op die platteland en soms in kleiner plekke op te tree. Só was dit heel aan die begin van haar loopbaan en sy sien daarna uit om die pad te vat en te help om ’n kultuur te skep wat musiek weer na die mense sal bring.

Haar loopbaan het in 1978 vlerke gekry met die treffer, Kinders van die Wind. Liedjies soos Blouberg se Strand, Stille Waters en Stuur groete aan Mannetjies Roux, maak steeds deel uit van alle Afrikaanse huisgesinne se speellys.

Kaartjies vir Durban, Oudtshoorn, Port-Elizabeth, Potchefstroom en Kimberley is eersdaags beskikbaar.

KLIK HIER VIR KONSERT DATUMS

Karoo Suite: Coenie de Villiers en Deon Meyer

Coenie de Villiers en sy musikante spring weg met komposisies van sy skitterende nuwe album, Emoji, asook ’n paar bekende treffers. Die laaste deel van die program bestaan uit die oorspronklike Karoo Suite, ’n musieksuite vir woord en lied, struktureel geskoei op Vivaldi se Vier Seisoene.

Maar dis nie seisoene wat Deon Meyer in sy wonderskone teks belig nie: dis die mense, die stories en die persoonlikheid van die Karoo. Meyer, een van die suksesvolste skrywers in die spanningsgenre ter wêreld, is ook self op die verhoog as verteller. De Villiers het die musiek gekomponeer.

Die bykomende lekkerte is Meyer (ook ’n fotograaf van internasionale gehalte) se asemrowende fotografie en projeksies wat ’n agtergrondtafereel vir dié multimedia-viering van woord, beeld en musiek skep.

Kaartjies vir Krugersdorp, Potchefstroom en Port-Elizabeth is eersdaags beskikbaar.

KLIK HIER VIR KONSERT DATUMS

Drie van die bestes

Met Kevin Leo, Danie Niehaus en Mathys Roets

Drie fenomenale stemme wat as solo-kunstenaars elk reeds diep spore getrap het in die Afrikaanse musiekwêreld. Saam haal hulle treffer-liedjies uit ’n musikale skatkis van twee dekades en pak dit in die Optog! kombi se kattebak. Hulle stof oues af en durf nuwes aan en word vir hierdie vertoning begelei deur pianis, Matthys Maree.

Dis ’n viering van drie goeie vriende se twintig jaar saam in die musiekbedryf. ’n Aand van lekker lag en goeie musiek!

KLIK HIER VIR KONSERT DATUMS

Bly ophoogte van alle Optog!-vertonings en nuus op Facebook, Twitter, Instagram of besoek Optog! se webblad. Gesels saam op sosiale media met die hutsmerk #Optog.