Jou Wêreld is die nuutste vrystelling deur Frikkie van Biljon, ’n talentvolle nuweling in die musiekwêreld wat in 2017 sy debuut gemaak het.
Luister hier na ’n lusmaker:
Dit is die derde enkelsnit wat hy vrystel ná die sukses van Altyd by My en Elke Tree. Frikkie werk tans aan ’n reeks enkelsnitte wat deur die loop van 2018 vrygestel gaan word. Verskeie van dié titels het hy self gepen. Paul Venter en Albert Short is van die mede-skrywers wat ’n bydrae tot die lirieke lewer en toonsettings deur Steffie le Roux gaan ook te hore wees.
Frikkie begin sing op die vroeë ouderdom van vyfjaar. Hy het ’n eretoekenning van die ATKV ontvang vir die bevordering van Afrikaans deur sang. Op universiteitsvlak was hy gekeur vir die Alabama en neem vir sesjaar deel aan die enkelsêr en binglesêr kompetisies op die PUK-kampus. Hy skryf ook eiekomposiesies vir verskeie koshuise waarvan ses van sy musiekstukke die top 5 behaal het op verskeie geleenthede.
Verder neem hy deel aan koshuistoneel en wend sy talente aan om te help met die beplan, skryf en afrigting van verskeie eerstejaarskonserte. Hy rig ook 3 sanggroepe af. In 2017 het hy die rol van Martin Luther vertolk in die dramatiese reformasie uitvoering, Uit Diep van Donker Nagte, met Ina Opperman as regisseuse.
Na ’n lang breek van die kunstewêreld besluit hy om weer sy droom na te streef en begin in 2017 weer met sangopleiding. In Julie 2017 het hy sy eerste enkelsnit uitgereik Altyd by my wat hy geskryf het in samewerking met Albert Short. Die lied was op verskeie gemeenskapsradiostasies gespeel regoor Suid-Afrika. Die musiekvideo is ook te sien op kykNET NOU.
Die verrassende nuwe klank van Frikkie se musiek is kenmerkend in Jou Wêreld waarin hy nie net sing nie, maar self ook klavier speel. Die lirieke is geskryf deur Frikkie en Cherish van der Berg en voer mens mee na ’n hartsplek vol emosie. Ander kunstenaars wat ’n bydrae tot die enkelsnit lewer is Ruan Kirsten op dromme en Bruwer Malan op kitaar. Jou Wêreld is vervaardig deur Bruwer Malan en mede-vervaardig deur André Hurter. Die liedjie is deur Independent Artistry Records SA uitgegee en versprei.
Die liedjie kan gehoor word op talle plaaslike radiostasies en is ook digitaal beskikbaar.