Groot afwagting het geheers toe die program vir die 15de Suidoosterfees Vrydagaand, 1 Desember, by Nasdak in die Media24-gebou in Kaapstad bekend gestel is, en met rede; aanstaande jaar se fees beloof om meer opwindend as nog ooit tevore te wees.
Die 15de Suidoosterfees (SOF) vind aanstaande jaar van 26 April tot 1 Mei by Artscape in Kaapstad plaas. “Hierdie fees, met die tema Fantastiese 15/Fabulous 15/Uchunge chunge 15, het ʼn aantal projekte wat die Kaapse Vlakte, Boland, Swartland en Karoo deur die jaar besoek en een keer ’n jaar almal in die hartjie van die Kaap bymekaar bring,” sê uitvoerende hoof Niël Rademan. “Ek is trots op die veelsydige program wat ons vir Suidoosterfees 2018 saamgestel het. Dit weerspieël volkome die diverse talent wat ons het om aan gehore ten toon te kan stel.”
Hoewel daar volgende jaar veel meer as 15 fantastiese produksies op die planke te sien is, is daar enkele hoogtepunte om na uit te sien. Fiela se Kind, met die oorspronklike Fiela, Shaleen Surtie-Richards, in die hoofrol.
Evita Bezuidenhout lewer haar staatsrede – Tannie Evita Praat Kaktus – op die Suidoosterfees-verhoog. Sy kyk na die politiek van die oomblik, die vrese van vandag, die spoke van gister en die tsunamis van die toekoms.
Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe deel op die Operahuis se verhoog hul liefde vir “big band swing”, in die vertoning Karoo Swing Innie Kaap.
Die enigmatiese Nataniël maak ook sy debuut by die 15de Suidoosterfees in Classic Nataniël, ondersteun deur agt fantastiese musikante; ’n jazzkwartet plus ’n strykkwartet. Met unieke verhale en asemrowende uitrustings deur Floris Louw sal Classic Nataniël nie teleurstel nie.
Die geliefde operette Die Fledermaus, deur Johann Strauss (ii), vertel die verhaal van ware liefde, vriendskap en getrouheid. Dit word binne ʼn Suid-Afrikaanse idioom geplaas met splinternuwe bindingsteks in Afrikaans.
Een van die aanskoulike produksies wat ook te sien sal wees, is Kaapse Tango met The Cape Town Tango Ensemble onder leiding van Stanislav Angolov, jazz-ikoon Melanie Scholtz en beeldskone ballroom, tango, rumba en samba-danse deur Michaela Loots en Keanan McClune.
Kaapse Khoi Jazz II is ʼn viering van gerekende komponiste van die bekendste Suid-Afrikaanse jazz deur die dekades. Dié produksie, onder leiding van bekwame pianis Camillo Lombard, bied jou ’n romantiese en nostalgiese reis deur tyd, ruimte en gevolg.
Vanjaar tree die wenners van die Suidoosterfees Talentsoektog weer op in Kunstreffers: Konsert van Hoop. Hulle deel die verhoog saam met die ikoniese Laurika Rauch, Robin Peters van The Voice-faam, klassieke kunstenaars soos Janel Speelman en Xolane Marman, Unmute Dance Company, Jazzart asook Cape Town City Ballet, Dizu Plaatjies en die Libertaskoor o.l.v. Johan de Villiers.
“Daar word ook voorsiening gemaak vir jong en opkomende kunstenaars wie deel vorm van die NATi Jong Sterre genre met produksies soos onder meer Gympiestraat, Ikhaya Lam en NRNNSA: Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid Afrika,” vertel Rademan verder.
Kaartjies vir Suidoosterfees 2018 is nou beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home-winkels. Besoek www.suidoosterfees.co.za vir meer inligting.