FOTO: Verskaf
Die groot oomblik is uiteindelik hier: VIA (DStv-kanaal 147) en Coleske Artists se splinternuwe TV-reeks, Die Kontrak, waarin die volgende groot Afrikaanse kunstenaar gekroon sal word, skop dié maand op die Afrikaanse leefstylkanaal af.
Die Kontrak begin amptelik op 19 September en die broer-en-suster-duo Bobby en Karlien van Jaarsveld is die aanbieders. Die reeks se agt aspirant-musieksterre wat ná ’n landwye aanlyn veldtog uit bykans 2 000 sangers gekies is, sal deur die mentors Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall gebrei word vir die strawwe uitklopkonserte wat hulle week na week moet aandurf.
’n Kennerspaneel wat bestaan uit die sangers Theuns Jordaan en Corlea Botha asook Barry Pretorius, die regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, sal weekliks hul sê sê oor die deelnemers se optredes. Dit is egter Coleske Artists se grootbaas, Arnold Coleske, wat moet besluit of ’n deelnemer hul kontrak kwyt is of ’n tree nader aan die Afrikaans is Groot-verhoog is waar die wenner van Die Kontrak uiteindelik gekroon sal word.
Die wenner sal op 23 November tydens Afrikaans is Groot 2018 by die Sun Arena in Pretoria aangekondig word en ’n kontrak ter waarde van R1 miljoen met Coleske Artists losslaan.
Nuwe episodes van Die Kontrak sal elke Woensdag om 20:00 uitgesaai word met heruitsendings op Sondae om 18:00.
Die JOOX-app, die Suid-Afrikaanse stroomdiens met die meeste Afrikaanse inhoud, is die amptelike stroomvennoot van Die Kontrak.