Demarié, die talentvolle 18-jarige sangeres met ’n hart vir country en ’n stem wat gehoor moet word, het amptelik haar matriek voltooi – en sy vier dit soos net ’n ware kunstenaar kan! Ná ’n jaar van harde werk, laatnag-studie en optredes, geniet sy ’n welverdiende vakansie in Hartenbos, waar sy onlangs by MatriekBAAI en Amfihart die feesligte gaan inasem het. Daar het sy eksklusief met grootname soos Zaan Sonnekus, Spoegwolf en Droomsindroom gesels – ’n ervaring wat haar net nog meer vasberade gemaak het om haar musiekdrome voluit na te jaag.




Demarié se liefde vir die verhoog is geen nuwe storie nie. Sy het reeds op driejarige ouderdom haar eerste tree op die verhoog gegee, en as jong model het sy indrukwekkende titels, soos Mini Miss RSA, ingepalm. Maar dit was op nege waar die musiekvlam behoorlik begin brand het. Op twaalf het sy haar eerste liedjies begin skryf – die oomblik wat die “gogga” haar permanent gebyt het.
Haar groot deurbraak het in 2024 gekom toe sy, op net 17, ’n country-weergawe van “Black Coffee” opgeneem het. Die verwerking het Universal Music se aandag getrek, en kort daarna het sy ’n platekontrak in die hand gehad. Vandag kan sy reeds spog met die enkelsnitte “More Than Words” en “Like Jou Niks”, liedjies wat haar as een van Suid-Afrika se belowendste jong country-kunstenaars vestig.


Maar matriek was nie altyd maklik nie. Om die balans tussen skoolwerk en haar groeiende musiekloopbaan te hou, het dissipline en deursettingsvermoë geverg. “Matriek is definitief ’n jaar wat mens baie verander en voorberei vir die toekoms,” vertel sy. “Dit is die eerste jaar van selfstandigheid en die jaar wat mens jouself vind.” Vir haar was die einde van matriek nie net ’n afskeid nie – dit is ’n opwindende begin van ’n nuwe hoofstuk.
En soos altyd dink sy groot: “Lewe is ’n oogwink lank; doen als voluit. Moenie bang wees dat jy te groot droom nie. As jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie.”
Met haar unieke country-klank, natuurlike verhoogaanvoeling en opregte hart vir mense, staan Demarié nou op die drumpel van iets besonders. Sy wil musiek skryf wat inspireer, wat stories vertel en wat mense se lewens raak. En een ding is seker: die wêreld gaan nog baie van haar hoor.
