Die Afrikaanse alternatiewe musiekgroep Wrakinjan is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Anderkant” – ’n energieke pop-punk-liedjie wat die blywende aard van ware konneksies ondersoek. Die liedjie, wat op 16 Oktober 2026 vrygestel word, herinner luisteraars daaraan dat sekere bande tussen mense nie noodwendig verdwyn wanneer tyd verbygaan of omstandighede verander nie.
“Anderkant” is deur die groep se hoofsanger en kitaarspeler, Arno Venter, geskryf en bied ’n eerlike blik op die emosies en ervarings wat ’n mens met jou saamdra. Volgens Arno het musiek die vermoë om dit waarmee ’n mens worstel, op ’n natuurlike manier na die oppervlak te bring.
“Liriekgewys manifesteer ’n mens se frustrasies en die goed waarmee jy worstel of geworstel het altyd in die musiek, so dit is seker maar ’n vorm van verwerking,” sê hy.
“Ek probeer dit so eg as moontlik hou, of die lirieke bietjie overshare of nie, solank dit net altyd uit ’n opregte plek uit kom, dan doen dit vir my wat dit moet.”
Hierdie eerlikheid vorm die kern van “Anderkant”, waarin die groep die idee ondersoek dat ’n ware konneksie steeds kan bestaan, ongeag hoeveel tyd verloop het en of ’n mens dit doelbewus probeer behou of nie. Met sy kenmerkende pop-punk-klank en emosionele onderbou bied die enkelsnit ’n kombinasie van rou gevoel en alternatiewe energie.
Die musiekvideo vir “Anderkant” fokus eerder op die groep se energie en visuele identiteit as op ’n spesifieke storielyn. ETG Media, bestaande uit Eric T. Graham en Tehan Buys, was verantwoordelik vir die video. Die twee is goeie vriende van Arno en het jare lank saam met hom in ’n band gespeel. Hulle het ook voorheen die musiekvideo vir Wrakinjan se “M.I.D.S” geskiet.
Wrakinjan is in 2025 deur Arno Venter gestig en bestaan uit Arno op hoofsang en kitaar, Ruan Graaff op kitaar, Jesse Meiring op tromme en Rudi Kleingeld op baskitaar. Saam bring die vier musikante uiteenlopende invloede en jare se ervaring na die groep se alternatiewe klank.
Arno, wat in Pretoria gebore en getoë is, het grootgeword in ’n huis waar musiek ’n belangrike rol gespeel het. Sy kinderjare is gekenmerk deur die musiek van kunstenaars en groepe soos Queen, ABBA, Def Leppard, Cat Stevens, Pink Floyd en Céline Dion.
Dit was egter Green Day se “Boulevard of Broken Dreams” wat sy belangstelling in musiek op ’n ander vlak geplaas het.
“Toe koop ek by een van my tjommies se ouer broer ’n live Green Day DVD en van toe af is dit al wat ek wil doen.”
Sedert 2021 is Arno aktief in die Afrikaanse musiekbedryf as sessiemusikant en het hy saam met kunstenaars soos Leah, Liezel Pieters, Franja, Willem Botha, Eloff, Robbie Wessels, Marno van der Merwe en Die Piesangskille gewerk.
Vir hom lê een van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan in die mense wat hy deur musiek ontmoet het.
“Die hoogtepunt van my loopbaan is eerlikwaar die verhoudings wat ek al gebou het met mense wat ek nooit eers gedink het ek sal ken nie. Dit is vir my ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie bedryf en die mense wat dit so ongelooflik cool maak.”
Kitaarspeler en vervaardiger Ruan Graaff bring ongeveer 15 jaar se ervaring in die musiekbedryf na Wrakinjan. Hy is oorspronklik van Secunda en het sy musikale aanleg deels van sy ma se kant van die familie geërf, waar kitaar speel, orrel speel en sing deel van die huishouding se musiektradisie is.
Hoewel hy as vervaardiger en liedjieskrywer vir van die land se grootste name werk, lê sy persoonlike musieksmaak in black metal. Hy bewonder veral Buster Odeholm, die skrywer en vervaardiger wat met die groep Humanity’s Last Breath verbind word. Ruan is ook verantwoordelik vir die vervaardiging van “Anderkant”.
Tromspeler Jesse Meiring se musikale reis het tussen 2010 en 2013 in die Verenigde State begin. Ná ’n lang onderbreking het hy in 2018 weer sy plek in die musiekbedryf ingeneem.
Sy liefde vir musiek het ontstaan toe hy as kind die musiekvideo vir Hanson se “MMMBop” gesien het en besef het dat selfs jong kinders instrumente kan bespeel en musiek maak. Mettertyd het sy belangstelling al hoe meer na rockmusiek verskuif, met Blink-182 as een van sy gunstelinggroepe.
Vir Jesse is die geleentheid om oorsee te reis en musiek saam met van sy gunstelinggroepe te maak een van die grootste voorregte van sy loopbaan.
Baskitaarspeler Rudi Kleingeld, ook bekend as Vyfrand, is ’n veelsydige musikant, kitaarspeler, liedjieskrywer, vervaardiger en musiekonderwyser. Hy kom oorspronklik van Heidelberg in Gauteng en het grootgeword met musiek van onder meer Guns N’ Roses, Def Leppard, Leonard Cohen en Koos Doep.
Benewens sy liefde vir Afrikaanse musiek en kultuur, is rugby ook een van sy groot belangstellings. Rudi is al 16 jaar voltyds in die musiekbedryf en bestuur die suksesvolle Vyfrand Music in Pretoria, waar hy kitaarlesse aan kinders en volwassenes aanbied.
Met “Anderkant” bou Wrakinjan voort op hul alternatiewe identiteit en hul voorkeur vir musiek wat eerlik uit persoonlike ervarings spruit. Die enkelsnit bring vier musikante met verskillende agtergronde en invloede bymekaar, met ’n gedeelde liefde vir rockmusiek as gemene deler.
Die resultaat is ’n Afrikaanse pop-punk-liedjie wat nie probeer om alle emosies netjies in ’n boksie te plaas nie, maar eerder erken dat sommige konneksies bly voortbestaan, selfs wanneer die tyd aanstap.
