Die talentvolle Nolene, voorheen bekend vir haar deelname aan die gewilde groep Reën met treffers soos Skobbejak en Vrystaat Vlaktes, het onlangs haar solo-loopbaan afgeskop met die vrystelling van haar eerste enkelsnit Hou Bene Hou. Nou maak sy weer opslae met haar nuutste enkelsnit Oe Jitte, Baby, wat op 21 Junie 2024 bekendgestel is.
“Hierdie liedjie was eintlik die eerste liedjie wat ek aan Muse Studios gepitch het toe ek my sangloopbaan begin het by Select Musiek. Nou is dit die regte tyd vir hom,” vertel Nolene. Met hierdie woorde beklemtoon sy die betekenisvolle reis wat sy onderneem het sedert die aanvang van haar solo-loopbaan.
LEES OOK: Twee sangeresse deel van Mej. Suid-Afrika se top-30
Ondanks haar besige skedule as deel van die Mej. Suid-Afrika, het Nolene gevoel dat dit die perfekte tyd is om Oe Jitte, Baby vry te stel. Die liedjie vertel die verhaal van die frustrasies wat ontstaan wanneer jy ’n ou se aandag probeer kry, maar hy bly met jou speel. In ’n poging om haar gevoelens uit te druk, skryf sy ’n briefie wat sy nooit bedoel het om te stuur nie, maar per ongeluk druk sy op ‘send’ – nou weet hy presies hoe sy voel.
“Ek het die liedjie geskryf aan die begin. Nou dat ons hom wil release, het Hugo Ludik en Nick Jordaan van Muse Studios gehelp om die liedjie te voltooi en natuurlik ’n fantastiese produksie en verwerking te doen op die liedjie waaroor ek baie opgewonde is,” sê Nolene. Hierdie samewerking het gelei tot ’n finale produk wat haar aanhangers sal betower.
Nolene se pad van sukses word steeds geplavei met kreatiwiteit en passie. Haar nuwe enkelsnit, Oe Jitte, Baby, beloof om ’n gunsteling te wees onder haar luisteraars. Soos sy sê: “Maak reg, want oe jitte, baby, jy gaan baie van hierdie liedjie hou!”
Met haar energieke en unieke styl, gaan Nolene voort om haar merk te maak in die musiekbedryf. Haar aanhangers wag in afwagting vir wat volgende kom en as Oe Jitte, Baby enige aanduiding is, is daar groot dinge op pad vir hierdie talentvolle kunstenaar.