Richann Brüssow is nie net ’n boer met ’n passie vir die landbou nie – hy’s ook ’n sanger en liedjieskrywer met ’n besondere aanvoeling vir eerlike, aardse musiek. Sy jongste enkelsnit, “Tyd”, bied luisteraars ’n diep persoonlike en deernisvolle blik op die dinge wat regtig saak maak: rus, liefde, geloof en die onskatbare waarde van tyd.
Bekendheid het vir Richann gekom deur die gewilde kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou, waar hy saam met René die groep Reën gevorm het. Hierdie ervaring het nie net sy liefde vir musiek versterk nie, maar ook sy roeping as storieverteller op ’n nuwe vlak geneem. Vandag volg hy ’n solo-pad met ’n unieke klank – een wat diep gewortel is in die grond van sy boerdery-lewe.
Met “Tyd” bied hy ’n liedjie aan wat stilstaan by die spanning tussen strewe en stilte, tussen drome en tevredenheid. Die lirieke dra ’n eerlike, hoopvolle boodskap van balans en genade – ’n uitnodiging om minder te jaag en meer teenwoordig te wees. Dit is ’n viering van die eenvoudige goed: geselskap, asemhaal, genoeg wees.
LEES OOK: Reën se Richann Brüssow stel debuut solo-enkelsnit bekend
Die liedjie het ’n rou, akoestiese klank – ondersteun deur Richann se opregte stem en ’n produksie wat die liedjie se hartklop eer. “Ek is ongelooflik opgewonde om tyd met die wêreld te deel,” sê hy. “Ons het baie tyd in hierdie projek ingesit, en ek hoop dit dra die gevoel oor wat ons wou vasvang.”
Die musiekvideo, verfilm op die plaas, gee kykers ’n blik op Richann se leefwêreld – insluitend ’n paar wollerige gaste. “Skape doen nie altyd wat jy wil hê hulle moet doen nie,” spot hy, “maar hulle het darem hulle fooi as ekstras aanvaar – ’n paar lekker lusernbale!”
Richann deel ook sy dankbaarheid teenoor Hinterland SA, wat hom al vir jare in sy boerdery ondersteun, en nou ook in sy musiekloopbaan. “Hulle glo in wat ek doen – dit beteken verskriklik baie.”
Hy gee verdere erkenning aan die span agter die klank en visie van “Tyd”: Ewald Janse van Rensburg, Quintin van der Merwe, en Danie Pretorius. Saam het hulle ’n liedjie geskep wat luisteraars laat stilstaan, asemhaal en onthou wat werklik belangrik is.
Kyk die musiekvideo hier:
“Tyd” is nou beskikbaar op alle digitale platforms – ’n liedjie wat jou nooi om weer tyd te maak vir tyd.
