ADAM, een van Suid-Afrika se mees geliefde musiekgroepe, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat sokkieliefhebbers opgewonde sal maak. Die groep, wat bestaan uit Hugo Ludik, Christoff de Beer en Nick Jordaan, kondig met trots die vrystelling van “Magic in die Meel” aan, wat op 1 November 2024 op alle digitale platforms beskikbaar sal wees. Saam met die enkelsnit, sal ’n musiekvideo op Vonk Musiek se YouTube-kanaal bekendgestel word.
“Magic in die Meel” bring die gees van Afrikaanse sokkiekultuur na vore op ’n manier wat net ADAM kan regkry. Die lied is geïnspireer deur die tradisie van meel wat op die dansvloer gegooi word tydens sokkie-geleenthede. Hugo Ludik verduidelik die inspirasie agter die lied: “Ons is almal mal oor sokkie, en die gebruik om meel op die dansvloer te gooi, is iets besonders aan die Afrikaanse kultuur. Dis uniek en iets wat jy nêrens anders in die wêreld sal sien nie. Ons het gedink dit is die perfekte tema vir ’n nuwe liedjie – die magic van die meel op die dansvloer!”
Die liedjie, geskryf deur Nick Jordaan en Hugo Ludik, dra daardie bekende ADAM-klank wat aanhangers oor die jare leer lief gekry het. Dit is vervaardig deur Muse Studios, met Robin Keiley, ’n ou bekende in die bedryf, wat verantwoordelik is vir die stemme en klankproduksie.
Benewens die aansteeklike ritmes en lekker sokkieliedjie, kan aanhangers uitsien na die musiekvideo wat op Vonk Musiek se YouTube-kanaal vrygestel sal word. Die video beloof om die “magic” van die sokkiekultuur vas te vang, met energieke danspassies en groot lirieke wat almal saam kan sing. Of jy nou op die dansvloer is of nie, hierdie video gaan vir almal iets hê om oor te glimlag en saam te geniet.
Met “Magic in die Meel” is dit duidelik dat ADAM steeds die voorste posisie in Afrikaanse musiek behou. Die groep het oor die jare bewys dat hulle nie net nostalgie kan oproep nie, maar ook nuwe generasies van luisteraars kan betower. Hulle glo dat hierdie nuwe treffer mense sal herinner aan die ADAM wie almal so graag mee sokkie, en dat dit hulle vernuwe in die kollig gaan plaas.
ADAM nooi almal uit om deel te wees van hierdie viering van Afrikaanse kultuur. Maak seker jy is reg vir 1 November 2024 wanneer “Magic in die Meel” op alle digitale platforms vrygestel word, en moenie die musiekvideo op Vonk Musiek se YouTube-kanaal misloop nie!