Jo Black kán ’n storie vertel, en as hy begin sing, gee hy daardie storie vlerke. Sy nuutste enkelsnit, “Die Brug”, wat op 18 Oktober 2024 uitgereik word, is geen uitsondering nie. Hierdie keer deel hy ’n inspirerende boodskap wat luisteraars diep gaan raak.
Volgens Jo is “Die Brug” simbolies van die verbindings wat ons in ons lewens moet bou – veral wanneer daar struikelblokke is. “‘Die Brug’ is vir my ’n simboliek om twee onbereikbare punte te verbind. As ons nie om, onder of deur iets kan gaan nie, gaan ons bo-oor. ’n Brug word nie net van een kant af gebou nie, maar van twee punte af. Kom ons bou saam aan die brug, aan ons verhouding, om mekaar te help, mekaar te dra en mekaar die pad te wys,” verduidelik hy met sy kenmerkende deernis en wysheid.
LEES OOK: Jo Black stel nuwe enkelsnit ‘Jou Tyd Is Nou’ bekend
Hierdie nuwe snit is geskryf deur Jo self, in samewerking met Don Kelly, en is vervaardig deur Murray Lubbe. Dit is ’n liedjie wat, soos baie van sy ander treffers, die krag van verhoudings en samehorigheid beklemtoon. Die meesleurende ritmes en betekenisvolle lirieke sal luisteraars aanmoedig om dit keer op keer te speel – hoe harder, hoe beter.
Met “Die Brug” bewys Jo Black weer dat hy nie net ’n musikant is nie, maar ook ’n storieverteller wat die hart van sy gehoor raak.