FOTO: Christian Wolf
Die gewilde kykNET-reeks, Boer Soek ’n Vrou, het vanjaar meer as ’n suksesvolle oesjaar agter die rug. En spesifiek vir een van daardie boere…
Boer Richann en René het nie net liefde gevind nie, maar ook musiek. Saam met René gaan hul musiek maak onder die naam Reën.
Dié duo se eerste enkelsnit Vrystaat Vlaktes word op Vrydag, 16 April op digitale musiekplatforms uitgereik. En hoe gepas is dit nie? Dis ook die einste vlaktes wat die twee bymekaar gebring het. Daarom bring hul hulde aan die pragtige Suid-Afrikaanse landskap.
“Albei maak al vir ’n geruime tyd musiek uit die liefde van die saak, maar het duidelik net gewag vir daardie een spesiale persoon om dit tot die volgende vlak te neem,” het Hendrik Spangenberg, bemarkingspesialis van Select Musiek gesê.
“Met hulle goedvoel klank en passie wat deurskyn in hulle eerste enkelsnit is dit duidelik dat hulle saam nog baie harte gaan steel as duet.”
Hou die spasie fyn dop, want waar dié reeks se seisoen eindig is ’n baie opwindende begin van ’n reis so reg uit die Vrystaat vlaktes.
- Vrystaat Vlaktes is nou op digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en JOOX beskikbaar.