Ruhan du Toit: Monumentaal

Coleske Artists (2020)

Ruhan du Toit se solo-album, Monumentaal, beloof om ’n introspektiewe blik op die herkoms van Afrikaans te plaas. Dit volg kort op die hakke van die ongekende sukses wat Ruhan as lid van die musiekgroep, Touch of Class, saam met Deon van der Merwe behaal het. 

Die album omslag ontwerp deur Francois Olivier, waar Ruhan op ’n leer- en houtstoel die verte instaar, maak van goudgeel en donkerblou skakerings gebruik. Die goudgeel vanaf links-bo dui ’n nuwe begin aan, terwyl die donkerblou wat na regs-bo uitdoof weer die einde daarvan aandui. Dié album bestaan uit 15 snitte waarvan drie uit Riana Nel en ses uit Johan Oberholzer se pen kom, sowel as indrukwekkende verwerkings van bekende gunstelinge. Dit sluit Ruhan se vertolkings van Simon & Garfunkel se The Sound of Silence, Prince se Purple Rain, Radiohead se Creep, Laurika Rauch se Kinders Van Die Wind en Michael Bolton se When I’m back on my feet again in. 

Die titelsnit, Monumentaal, wat Gerhard Steyn, Riaan Benadé en Paulo Azevedo geskryf het, handel oor die Afrikaner se herkoms en soeke na identiteit. Die eerste enkelsnit, As Jy Dink Jy Weet, is ’n openhartige liefdesverklaring deur ’n man aan sy vrou om die volle omvang van sy liefde vir haar te beklemtoon. Die tweede enkelsnit, Lewe Red, is ’n ode van ’n pa aan sy seun waarin hy hom daaraan herinner dat hy elke keer weer moet opstaan nadat hy geval het. Ruhan se duet met Monique Steyn, Hartseer, moedig luisteraars aan om uit hulle seerkry te leer, selfs al is hul harte gebreek. Ander potensiële treffers sluit in Die Mite, Val Op Jou Knieë, Sy Is Vuur, Skuldig en Ek Wil Eendag Kan Sê. 

Dié album is deur Ruhan du Toit, Arnold Coleske en Paulo Azevedo vervaardig, terwyl Murray Lubbe en Ben Schutte die finale meng daarvan behartig het. Gesoute musikante soos Juan “Floors” Oosthuizen op kitaar, asook Denny Lalouette en Andrew “Rixi” Roman op baskitaar, sowel as Vinnie Henrico op dromme lewer ’n belangrike bydrae tot hierdie album se sukses. 

Hierdie album slaag nie slegs daarin om Ruhan se vokale reikwydte ten toon te stel nie, maar bied ongetwyfeld ook aan hom ’n uitstekende fondasie vir ’n suksesvolle solo-loopbaan. Monumentaal met sy weldeurdagte snitte wat luisteraars opnuut breë-bors en trots Afrikaans sal laat voel, sal beslis aanklank vind by diegene wat na ’n onafhanklike identeit binne die hedendaagse wêreld opsoek is.