Booomrecordsza (2019)
[yasr_overall_rating]
Valeska Muller se langverwagte debuutalbum, My Simfonie, wat ná haar eerste 20 jaar in die musiekbedryf uiteindelik bekend gestel is, beloof om met sy unieke en progressiewe styl Afrikaanse musiekgrense te verskuif. Dié uitreiking word deur menige Afrikaanse en Engelse enkelsnitte, asook rolle in verskeie plaaslike musiekteaterproduksies en televisieprogramme, voorafgegaan. Hierdie veelsydige blondekop wat voorheen deel was van die groep, Rain On Mars, bestuur deesdae haar eie musiekskool, Valeska Muller Vocal Academy (VMVA).
Die moderne, dog klassieke, album omslag waarop die linkerkantste onderste hoek van die foto uitgedoof is, gebruik verskillende skakerings van wit, bruin, pienk en pers om sodoende die sagte, vroulike perspektief van die inhoud te beklemtoon. Die opwindende klank daarvan word deur verskeie instrumentaliste soos Lumar Kirstein op banjo, Jade Hibbert op viool en Francois Steyn op kitare bewerkstellig. Tertius “Bigg-T” Jacobs van Melody Lane Strings wat vir hierdie album se produksie, programmering en finale meng verantwoordelik was, het ook saam met Valeska en Sean Butler die 18 oorspronklike snitte daarop geskryf.
Die titelsnit, My Simfonie, dien as ’n uitgebreide samestelling van haar lewe en groot liefde vir musiek, waarmee sy haarself wil voorstel, grense wil oorskry en haar werk wil deel met diegene wat haar al só lank ondersteun. Die eerste enkelsnit, Verdwaal Saam Met Jou, is ’n moderne popmusiekverwerking met ’n opgewekte deuntjie wat vertel hoe twee geliefdes van die stad se geraas wegbreek om saam tyd te kan spandeer. Die tweede enkelsnit, Skyn Jou Liggie Vir My, is ’n elektroniese popsnit wat luisteraars inspireer om die donker vanuit hulle verlede te konfronteer sodat hul werklik vry kan wees en hul lig vir ander kan laat skyn.
Die derde enkelsnit, Verlange Van Jou, gebruik progressiewe huismusiek om te beskryf hoe ’n verhouding waarin twee mense wat aanvanklik verlief, dolgelukkig en onafskeidbaar van mekaar is, geleidelik verander totdat slegs herinneringe en ’n verterende verlange oorbly. Dié sielvolle lirieke daarvan is ook in Engels vertaal as More Than Ever in ’n poging om ’n groter gehoor plaaslik, sowel as oorsee, daarmee te kan bereik. Die vierde enkelsnit, Naby My Naby Jou, is ’n moderne ballade met ’n meesleurende wysie wat popmusiek, reggae en huismusiek kombineer om die euforiese gevoel en kinderlike opgewondenheid van die liefde weer te gee. Ander potensiële treffers sluit in Jy Vat Alles, Daar Waar Ons Staan, Hou Jou Mond En Dans, Woestyn van Herhaal en Keep Up.
Valeska gebruik haar strelende stem en eiesoortige musiekstyl wat ongetwyfeld luisteraars se aandag sal trek om verskeie temas asook emosies soos liefde, hartseer, teleurstelling, trauma, frustrasie, aanvaarding en hoop aan te spreek. Hoewel haar debuutalbum deur ’n kombinasie van verskillende klanke en melodieë tot stand gebring is om iets nuuts te skep waaraan Afrikaanse gehore nie tot dusver gewoond was nie, slaag dit steeds daarin om iets vir elke smaak te bied. My Simfonie met sy eerlike lirieke, emosionele vertolkings eksperimentele klanke en ritmiese musiekverwerkings dien beslis as ’n baken van hoop vir diegene wat al baie moeilike tye in hulle lewens beleef en oorwin het.