Close Menu
  • TUIS
  • NUUS
  • FEESTE EN KONSERTE
    • Afrikaans is Groot
    • Krone
  • TOEKENNINGS
  • RESENSIES
  • KONTAK ONS
    • Gesels met ons
    • Privaatheidsbeleid
    • Adverteer
    • Deel jou geleentheid
TikTok Instagram Facebook WhatsApp X (Twitter)
TikTok Facebook Instagram WhatsApp X (Twitter)
Afrikaanse Musieknuus
  • TUIS
  • NUUS
  • FEESTE EN KONSERTE
    1. Afrikaans is Groot
    2. Krone
    3. View All

    Afrikaans is Groot maak wéér geskiedenis!

    2 April 2026

    Afrikaans is Groot 2025: Die grootste historiese konsert nóg!

    25 Maart 2025

    Afrikaans is Groot hou vir ’n 11de keer konsert en jy kan wen!

    27 Maart 2024

    Die GrootJol toer die land plat in 2023!

    2 Maart 2023

    SIA se Charmaine se derde jaar by ‘Krone’: ’n Onvergeetlike musiekervaring

    15 September 2025

    Talle nuwe gesigte by dié jaar se Krone-konsert

    26 Januarie 2025

    ‘Krone’ weer op Loftus vanjaar!

    9 April 2024

    Maak gereed vir ‘Krone’ op Loftus!

    14 Februarie 2023

    Liefde by die Dam vier 10 jaar met ’n wêreldklas Super Mega Bonanza

    20 April 2026

    Afrikaans is Groot maak wéér geskiedenis!

    2 April 2026

    Super Mega Bonanza: 10 jaar van ‘Liefde By Die Dam’

    26 Februarie 2026

    SIA se Charmaine se derde jaar by ‘Krone’: ’n Onvergeetlike musiekervaring

    15 September 2025
  • TOEKENNINGS
  • RESENSIES
  • KONTAK ONS
    • Gesels met ons
    • Privaatheidsbeleid
    • Adverteer
    • Deel jou geleentheid
Afrikaanse Musieknuus
Home»Resensies»Liani Reynolds: Ligsoom
Resensies

Liani Reynolds: Ligsoom

Leoné Prinsloo29 Desember 2019
Deel
Facebook WhatsApp Telegram Twitter Copy Link

JNDR Musiek (2019)

[yasr_overall_rating]

Liani Reynolds se debuutalbum, Ligsoom, beloof om nie slegs vir haar ’n permanente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers te verseker nie, maar ook ’n versamelstuk te word, waarin luisteraars aspekte van hulleself stuk-stuk langs hulle lewenspad sal ontdek. Die absolute eenvoud en vreugde, waardeur haar grootwordjare op hulle familieplaas naby Piet Plessis in Noordwes gekenmerk is, het as perfekte teelaarde gedien vir haar ryke verbeelding soos uit verskeie persoonlike belewenisse op dié album blyk. Hierdie veelsydige kunstenaar was verder ook saam met Joshua Na Die Reën, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Kaleidoskoop deel van Musiek Soos Grond, ’n onafhanklike groep kunstenaars, wat vroeër vanjaar akoestiese konserte regoor Suid-Afrika aangebied het. 

Dié album bestaan uit elf oorspronklike Afrikaanse snitte, waarvan agt uit Liani se pen kom, terwyl Jacques de Villiërs en Jaco van der Merwe ook elkeen onderskeidelik hulle duette saam met haar geskryf het. Jacques, beter bekend as Joshua Na Die Reën, was vir die verwerkings en vervaardiging verantwoordelik, terwyl Jason Ferreira die klankopnames, Ewald Jansen van Rensburg die klankvermening en Rogan Kelsey die bemeestering behartig het. Die luisterryke nostalgie word bewerkstellig deur Jacques en Liani op klavier, Coenrad Rall op trekklavier, Carel Henn op tjello, Andy Maritz op dromme, en Nathan Smith op kitaar, asook Gerhard Bienedell en Rixi Roman op baskitaar, sowel as Evert van Niekerk, Jacques Fourie en Lize Schaap op viool. 

Ligsoom, die titel as ’n samevattende konsep van die tema waaroor hierdie album handel, verwys na die mens se idee van hoe iets moet lyk as dit goed en vry is. Die kunstige album omslag ontwerp deur Daneille Joubert van Yesterfang vertoon ’n skildery van Liani met ’n mossie in haar linkerhand en ’n stok in haar regterhand waaraan die maan in ’n net oor haar skouer hang met die sterrehemel teen die agtergrond. Die binnekant van die omslag bevat ’n visuele voorstelling van ’n swaeltjie binne die ligsoom, waarvan slegs die buitelyne in die vorm van roomkleurige sterretjies op ’n bruin agtergrond uitgebeeld word. 

Volgens die skrywer woon daar mossies binne-in hierdie ligsoom, wat in die hede van die realiteit versteek is, maar hulle sweef onsienlik sonder om al die aandag vir hulself toe te eien sodat ander ook in die lig kan wees. Vandaar dan ook die eerste enkelsnit vanaf hierdie album, Mossie, wat sy opgedra het aan haar ouma, Cecilia Johanna Botha, en haar vierde kind, Naomi Botha, beter bekend as “Mossie”, wat gestremd was as gevolg van komplikasies tydens haar geboorte. Hiernaas bestaan dié album ook uit verskeie ander odes aan haar geliefdes, insluitend Skuiling vir haar pa, Ruimte vir haar skoonpa, Louis Percy George, Herontmoeting vir haar mentor, Tom Gouws, en Groen vir haar man, Kalla. 

Vlieërs, haar duet saam met Jacques, handel oor die naatlose ruimte en totale aanvaarding tussen goeie vriende, waar hulle die vryheid het om, soos vlieërs, te gaan waar die wind hulle waai, maar nog steeds in veilige hande gegrond is. Gewoond, haar duet saam met Jaco van Bittereinder faam, is ’n treffende snit waardeur ’n bepalende oomblik in haar lewensreis met behulp van kletsrym effektief aan luisteraars oorgedra word. Hierdie album bevat heel gepas die konsertweergawe van Amanda Strydom se tydlose treffer, Pelgrimsgebed, wat dien as die ideale vertoonvenster vir Liani se kleurvolle altstem. Ander potensiële treffers sluit in Swaeltjie, Sterredigter en So Baie Dinge. 

Hierdie unieke kontemporêre album, waarmee Liani debuteer, neem luisteraars deur middel van sy opregte boodskap, nostalgiese styl en eksperimentele klank op ’n baie persoonlike reis deur haar lewe tot dusver. Met Liani se indrukwekkende stem, meesleurende melodieë, diep deurdagte storievertellerslirieke en hartroerende opregtheid, slaag sy ongetwyfeld daarin om nie slegs ’n prentje in die kop van ’n luisteraar te skilder nie, maar hom of haar ook daarheen weg te voer. Indien jou verbeelding, nes dié van hierdie talentvolle skrywer, deur stories oor gewone, dog uitsonderlike mense geprikkel word, is Ligsoom ’n moet vir jou versameling! 

Leoné Prinsloo
  • Facebook
  • X (Twitter)
  • Instagram
  • LinkedIn

Leoné het haar BA graad in Kommunikasiestudies asook Honneursgraad in Dokumentêre Videoproduksie beide Cum Laude aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus behaal. Verder het sy ook ’n aanlynkursus in Sosiale Mediabestuur deur Get Smarter in samewerking met die Universiteit van Kaapstad voltooi.

JY SAL OOK HIERVAN HOU:

80
Rinél Day: Ek Het Opgestaan
80
Nathan Smith: Here’s To The Now
80
Leah: Kyk Na My
80
Abel Knobel: Refleksies

Teken in op ons nuusbrief

Ontvang die jongste musieknuus in jou e-posbus.

‘Hemel Op Tafelberg’ kry nuwe lewe: Kurt Darren en Spoegwolf snoer kragte

24 April 2026

Zaan Sonnekus en Tasché tref diep met kragtoer duet ‘Dood’

24 April 2026

Francois van Coke onthul nuwe enkelsnit en droomagtige musiekvideo

23 April 2026

SKEUR breek grense met rou, eerlike debuut-EP

21 April 2026

Bibi betower met nuwe liefdesballade ‘Dromers’

17 April 2026

Type above and press Enter to search. Press Esc to cancel.