Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Jauni M: Niemand Anders

993169 Records DK (2019)

Jauni M se onafhanklike debuutalbum, Niemand Anders, wat sy onlangs uitgereik het, wissel tussen opgewekte, lekkerluister deuntjies en eerlike, diep hartsmusiek. Hierdie brunet se album, wat haar storie asook die stories van diegene rondom haar vertel, is deur haar man, mense en keuses, asook die liefde en die lewe geïnspireer. Dit volg op verskeie geleenthede die afgelope tien jaar waartydens sy saam met groot name in die plaaslike musiekbedryf soos Ruhan du Toit en Deon Meiring van Glaskas faam gewerk het. 

Hierdie album, wat uit tien Afrikaanse en twee Engelse oorspronklike snitte bestaan, is deur Sean Manley en Zanda Traut van Manley Studios vervaardig. Hoewel Jauni M gehelp het om sewe van dié liedjies te skryf, is sy egter op sommige snitte ook deur Emil Struwig, Deon Meiring, Sean Manley, Zanda Traut, Jaco van den Berg en Neill Theunissen bygestaan. Haar album se kenmerkende country pop-klank met ’n rock-gedrewe ondertoon word deur Zanda Traut op klavier, Sean Manley, Ricus Nel, Zanda Traut en Jaco van den Berg op kitare asook Denny Lallouette op baskitaar sowel as Bruce Wallace en Zander Kriegler op dromme bewerkstellig. 

Die titelsnit, Niemand Anders, vertel hoe twee geliefdes deur dik en dun saamstaan waarna hulle mekaar elke dag opnuut weer kies ten spyte daarvan dat hulle somtyds argumenteer, stry of woorde het. Die tweede enkelsnit vanaf haar album, Liefde Soos Dagbreek, verduidelik dat dit wat elke paartjie deel vir hulle spesiaal is, selfs al verskil elke liefdesverhouding net so breed soos dagbreek van mekaar. Perfekte misdaad is ’n tong-in-die-kies dansliedjie, waarin die skrywer vertel hoe sy aangekla, skuldig bevind en tot tronkstraf gevonnis is nadat sy met die liefde gedobbel en in die proses ook dronk geraak het daarop. Ander potensiële treffers sluit in Kans van ’n Leeftyd, One Step, Verlang, Sterre en Keuses

Kyk weg (Kyk vir my), Jauni M se duet saam met Neill Theunissen, beskryf die verloop van ’n verhouding vanaf die heel eerste kyk tussen twee geliefdes tot hulle uiteindelik besluit om mekaar te laat gaan en vry te wees. Die grootste verrassing op dié album is egter Sonder Jou, haar duet saam met Deon Meiring, wat die onophoudelike soektog van twee mense na mekaar op ’n liriese wyse beskryf. Dié album word afgesluit deur die Engelse country-gedrewe snit, This is it, waarin die skrywer ’n nuwe hoofstuk van haar lewe skryf terwyl sy aan ’n gewese verhouding terug dink. 

Hierdie emosiebelaaide album, wat hoofsaaklik handel oor liefde asook verskillende keuses wat daaroor gemaak moet word, is ongetwyfeld ’n welkome toevoeging tot die huidige aanbod van die plaaslike musiekmark. Hoewel Jauni M se sterk country-rock aanslag in sommige opsigte aan Brandi Carlile, Bryan Adams, Daughtry en Ward Thomas herinner, bewys sy egter met hierdie album dat haar talent nooit slegs tot ’n enkele musiekstyl beperk sal kan word nie. Niemand Anders, wat met ’n volwasse kontemporêre klank spog, sal beslis aanklank vind by enigeen wat al die hartseer sowel as geluk van ware, opregte liefde gesmaak het. 

Leoné Prinsloo

Leoné het haar BA graad in Kommunikasiestudies asook Honneursgraad in Dokumentêre Videoproduksie beide Cum Laude aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus behaal. Verder het sy ook ’n aanlynkursus in Sosiale Mediabestuur deur Get Smarter in samewerking met die Universiteit van Kaapstad voltooi.