RSS Records (2018)
[yasr_overall_rating]
Rolene Strauss, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld, se Gesproke Woord album, Secrets to my growth, bestaande uit verskeie lewenslesse en stories is die heel eerste van sy soort wat plaaslik uitgereik is. Dié dinamiese vrou is voorsitter van ’n nie-winsgewende organisasie, The Strauss Foundation, wat sy in 2016 saam met haar man, D’Neil, gestig het. Vir Rolene wat in 2017 as mediese dokter aan die Universiteit van die Vrystaat gegradueer het, was die volgende logiese stap RevitaHealth, ’n holistiese gesondheidsentrum, wat sy in 2018 saam met haar skoonsuster, Dokter Ledivia Strauss, geopen het.
Die oorheersend donker album omslag met ’n tikkie glans en swier beeld hierdie voormalige skoonheidskoningin van Volksrust uit as ’n stylvolle en sensuele dame met haar voete stewig op die aarde en haar hart geanker in haar geloof. Secrets to my growth wat deur Universal Musiek versprei word, is deur Johan Vorster, Jacomien de Villiërs, Danny Smoke, Jo Black, Jannes Erasmus, Daniël Rademeyer, Francois Lessing, Dr. Melissa van der Spuy en Tim Rankin van Inhoud Huis Musiek vervaardig. Dit bied aan Rolene die geleentheid om al haar geheime vir persoonlike en professionele groei in die vorm van verskeie metodes, konsepte, denkrigtings en mentors met die luisteraars te deel sodat hulle dit in spesifieke stadiums van hulle lewens kan interpreteer.
Hantering van lewensveranderinge en kritiek asook finansiële onafhanklikheid, produktiewe tydsbestuur en effektiewe gebruik van sosiale media sowel as positiewe selfkommunikasie, dankbaarheid, sukses, nalatenskap, fisiese voorkoms en huwelike is van die sentraal onderliggende temas wat op hierdie album aangespreek word. Pretty Hurts wat oorspronklik deur Sia Kate Isobelle Furler, Joshua “Ammo” Coleman en Beyoncé Knowles geskryf is asook deur laasgenoemde opgeneem is, word ingespan om die gesproke woord oor fisiese voorkoms en gewigsverlies baie doeltreffend te komplementeer. Die grootste verrassing op dié innoverende album is egter die snit, Words, waarop Jo Black met Rolene saamspan vir die gesproke woord oor die krag van woorde om ’n positiewe selfbeeld te kan kweek.
Rolene se lewensgeheime word verder geïllustreer deur aanhalings van Dwight Eisenhower, 34ste President van die Verenigde State van Amerika en Professor Jonathan Jansen, voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Die geestelike fondasie wat as inspirasie gedien het vir hierdie uiters eerlike album blyk baie duidelik uit die deurlopende intertekstuele verwysings na Bybelverse soos Fillepense 3:12, 1 Korintiërs 13:4-8a en Psalm 139:1-18, 23-24.
Hierdie suksesvolle ma, vrou, dokter, sakevrou en motiveringspreker slaag ongetwyfeld met haar inspirerende gesels-album daarin om haar siel te ontbloot soos nog nooit tevore nie en om nuwe aspekte van haarself met die publiek te deel. Alhoewel die konsep van Gesproke Woord as ’n genre nog effens ongewoon vir die Suid-Afrikaanse mark is, verseker Engelse opnames daarvan dat die lesse wat Rolene op haar album deel universeel is tot vroue van alle ouderdomme regoor die wêreld. Secrets to my growth met sy eerlike stories, praktiese voorbeelde, interessante staaltjies, motiverende lewenswyshede en geestelike waarhede sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit verlore drome, mislukte projekte of rooigesig-oomblikke in hulle lewens beleef het.