Deidré Barnard is ’n regte ‘koel kat’!

FOTO: Verskaf

Die jongste deelnemer van VIA (DStv-kanaal 147) en Coleske Artists se werklikheidsreeks, Die Kontrak, die 16-jarige leerder en sangonderwyser van die Strand, Deidré Barnard, het vanaand die kompetisie gegroet. Ons vat vyf met dié talent:

Wat het jou laat besluit om in te skryf vir Die Kontrak?
My ma het my daarvan vertel. Toe dink ek, “Oh my word, hierdie lyk actually legit.” En toe vergeet ek daarvan! Die aand voor die inskrywings gesluit het, het ek my oudisievideo’s vinnig opgelaai.

Wat is jou grootste hoop vir jou musiekloopbaan?
Ek wil baie graag ’n gevestigde kunstenaar word. Ek skryf verskriklik baie musiek so dit sal vir my amazing wees as ek musiek kan maak, vervaardig en daar buite uitkry as wat dit net in my kamer bly. Ek wil musiek maak én uitreik.

En wat is jou grootste vrees?
My grootste vrees is dat my drome nie waar word nie. Dat ek dit glad nie maak nie. Soveel mense sê die kunswêreld is moeilik. Ja, dit is, maar daar is so baie verskillende rigtings waarin ’n mens kan gaan. My grootste vrees is dat dit glad nie uitwerk nie.

Watter kunstenaars is jou grootste musikale invloede?
Whitney Houston, Etta James, Billie Eilish en die musiekgroep Glass Animals.

As jy nie ’n musiekkunstenaar was nie, watter ander beroep sou jy nastreef?
Ek sou of ’n dokter of ’n ballerina wees. Iets cool wat harde werk verg

Nuwe episodes van Die Kontrak sal elke Woensdag om 20:00 uitgesaai word met heruitsendings op Sondae om 18:00. Die JOOX-app, die Suid-Afrikaanse stroomdiens met die meeste Afrikaanse inhoud, is die amptelike stroomvennoot van Die Kontrak.