FOTO: Verskaf
Die sanger, liedjieskrywer en deesdae ook finansiële-beplanner, Ampie, se nuutste enkelsnit, Sit Die Radio Aan, is pas vrygestel en gaan jou beslis na die volume knoppie laat gryp.
Dié moderne-country-liedjie uit die pen van Ampie en Sean Else gaan oor iemand wat moeg is vir die stad se irritasies en in sy bakkie klim, die radio aansit en gaan waarokal die wind hom neem. “Soms raak mens moeg as die jaar te lank aanhou en alles irriteer jou so aan die einde van die jaar. Eerder as om lelik te wees met ander, gaan herlaai jy êrens op jou eie,” gesels die sanger.
Ampie sê dat die liedjie ’n lekker goedvoel somervakansie liedjie is en dat almal só voel aan die einde van die jaar. “Dit sal enigiemand laat goed voel, jonk of oud.”
Luister hier na ’n voorskou:
’n Musiekvideo vir die enkelsnit is ook reeds deur Christiaan Wolf van Christiaan Wolf Productions verfilm en vervaardig. Dié video, wat in ’n skuur verfilm is, is ’n ‘performance’-video voor ’n LED-skerm met paaie wat verander en gery word. “Ek dink nie so iets is al gedoen nie. Dis eenvoudig maar tog interessant,” vertel Ampie.
Ampie du Preez, wie se stem as ‘tydloos’ opgesom word, sing reeds sy lewe lank en vanjaar is sy dertiende jaar in die musiekbedryf. Hy is ook ’n kranige gholfspeler, partytjie geesdriftige en het onlangs weer begin studeer.
Ampie vertel dat hy musiek skryf oor dit wat op daardie oomblik in sy lewe gebeur. “Ek skryf maar meestal ware gebeurtenisse.” Hy sal ook graag saam kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke of selfs Dewald Wasserfall wil werk en skryf. Die sanger is mal oor Country en iemand soos Keith Urban is ’n groot inspirasie.
Wanneer hy egter nie musiek kon bemeester nie, sou hy graag ’n gholfspeler wou word en lewe met die aanhaling: “Song is king.” En wat weet aanhangers nie van hom nie? “My regte naam is Abraham ‘vader van vele’,” verklap hy met ’n tong-in-die-kies…
Ampie sonder die dag toe hy op Joost van der Westhuizen se roudiens, een van sy gunsteling liedjies gesing het, as een van sy loopbaan hoogtepunte uit. Sy treffer, Plain Jane, het van hom ’n huishoudelike naam gemaak en spog met amper 1.7 miljoen trefslae op YouTube. Boonop is sy album Niks en Niemand vir ’n SAMA-toekenning genomineer. Sy jongste album, Bosveld Blues, is ook vroeër vanjaar uitgereik en die eerste enkelsnit, Ek Sal, het op verskeie radiostasies se top-ranglyste geboer.
LEES OOK: Derde vrystelling van Ampie is ‘aards en melodies’
Die grootste les wat die sanger oor die dertienjaar geleer het is dat die lewe onregverdig is en dat die bestes nie altyd vinnig bo uit kom nie. “Hou aan om hard te werk en weet dat jou tyd sal kom”, voeg hy by. Sy pa se dood was ook ’n onverwagse vuishou vir hom.
Tussen musiekmaak en die skryf daarvan, doen Ampie ook finansiële-beplanning en geniet hy dit om mense te help in die regte rigting, wat hulle finansies aanbetref. Ampie is baie opgewonde oor sy nuwe enkelsnit, Sit Die Radio Aan, en hoop dat aanhangers ook aanklank hierby sal vind. “Om musiek te maak, is nog altyd my grootste passie,” sluit Ampie af.