Faraway George het ‘’n kans gevat’ met Die Kontrak

FOTO: Verskaf

Faraway George, ’n musikant van Pretoria, moes dié week sy kontrak vaarwel roep in VIA (DStv-kanaal 147) en Coleske Artists se werklikheidsreeks, Die Kontrak. Ons vat vyf met die talent:

Wat het jou laat besluit om in te skryf vir Die Kontrak?
Ek wou iets heeltemal nuuts doen. Ek is nie ’n kompetisiepersoon nie. Ek skryf nie gewoonlik in vir kompetisies nie so ek het ’n wilde kans gevat en gekyk wat gebeur.

En wat is jou grootste vrees?
My grootste vrees vir my loopbaan is dat ek my droom sal volg, maar nie vir my familie sal kan sorg nie.

Watter kunstenaars is jou grootste musikale invloede?
My groot musikale invloede is definitief my mentor, Elvis Blue, en ek hou ook verskriklik baie van Gregory Alan Isakov. Paul Simon is ook een van my groot inspirasies.

As jy nie ’n musiekkunstenaar was nie, watter ander beroep sou jy nastreef?
Ek voel ek is gemaak om musiek te maak en ek is nie vir enige ander rede gemaak nie. Ek voel daar is sekere goed waarin ek goed is, maar ek voel ek is uitgeknip vir dié. Ek sou nie só passievol kon wees oor enige iets anders nie

Nuwe episodes van Die Kontrak sal elke Woensdag om 20:00 uitgesaai word met heruitsendings op Sondae om 18:00. Die JOOX-app, die Suid-Afrikaanse stroomdiens met die meeste Afrikaanse inhoud, is die amptelike stroomvennoot van Die Kontrak.